Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Twee nuwe navorsingsleerstoele vir FGGW
Outeur: Jackie Pienaar-Brink
Gepubliseer: 29/06/2018

Twee vooraanstaande vrouenavorsers aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) is die jongste bekleërs van 'n SARChI-Navorsingsleerstoel in hul onderskeie velde.

​Dit bring die totaal aantal leerstoele vir die Fakulteit op 12 te staan.

Die Navorsingsleerstoele is onlangs toegeken aan prof Xikombiso Mbhenyane, hoof van die Afdeling Menslike Voeding, en prof Quinette Louw, uitvoerende hoof van die Department Gesondheids- en Rehabilitasiewetenskappe en die Afdeling Fisioterapie.

“Hierdie Leerstoel skep die platform vir die konsolidering van my navorsing op die gebiede van inheemse voedsel en voedingsekuriteit, veral omdat dit op kapasiteitsontwikkeling fokus," sê Mbhenyane. “My werk met nagraadse studente is my sterk punt en passie."

Haar navorsing sal fokus op voeding, gesondheid en voedselomgewings teen die agtergrond van laasgenoemde se invloed en uitwerking op die driedubbele las van wanvoeding, naamlik ondervoeding (belemmerde groei, uittering en mikronutriënt-gebreke), oorvoeding en gevolglike nie-oordraagbare siektes (diabetes, hoë bloeddruk, kardiovaskulêre siektes en kanker). “Vir die langtermyn-welsyn van gesinne en gemeenskappe asook geslaagde ekonomiese en maatskaplike bevordering, is die verbetering van voeding tydens die hele lewensduur – vanaf bevrugting tot volwassenheid – noodsaaklik," sê sy.

Volgens Mbhenyane is daar steeds nie afdoende bewyse vir die manier waarop voeding- en gesondheidsuitkomste - soos die saambestaan van die driedubbele siektelas in dieselfde huishouding – hulle voordoen nie. “'n Deeglike begrip van die beweegredes vir voedselkeuses in die huishouding sal die weg aanwys vir die ontwikkeling van doeltreffender voedingsensitiewe programme. In hierdie program sal ons kultureel-sensitiewe impakevaluasie-instrumente wat op plaaslike omgewings van toepassing is, ontwerp en loods ten einde voeding- en gesondheidsuitkomste te bepaal."

Mbhenyane, wat in Limpopo gebore en getoë is, het 'n BSc-graad aan Medunsa (nou die Sefako Makgato Universiteit vir Gesondheidswetenskappe) verwerf. Sy is 'n Fullbright-beurshouer wat aan die Universiteit van Illinois in Chicago, Amerika, haar meestersgraad in voeding en dieetkunde behaal het, gevolg deur 'n doktorsgraad in voeding aan die Potchefstroom-universiteit (nou Noordwes).

Mbhenyane het vroeër as dieetkundige in sowel die openbare as private sektor gewerk en was ook 'n akademikus aan die Universiteite van die Noorde (nou Limpopo) en Venda.

Vir Louw is die SARChI-leerstoel in “Innoverende Rehabilitasie" 'n langtermyn-doelwit wat bewaarheid is en dié hoogtepunt van haar loopbaan tot dusver. “Dit dien as 'n wonderlike erkenning van my navorsing op institusionele, nasionale en regeringsvlak. Hierdie leerstoel maak die deur oop na baie moontlikhede en geleenthede wat tot betekenisvolle bydraes tot die samelewing kan lei.

“Op institusionele vlak beteken dit dat die waarde van en behoefte aan navorsing oor rehabilitasie nou sonder meer as 'n belangrike gesondheidstrategie erken en ondersteun word."

Louw se navorsing fokus op wetenskaplike en kliniese bewyse tydens rehabilitasie vir die verbetering van menslike funksionaliteit en gesondheid oor dissiplines heen.

“In Suid-Afrika is daar 'n dringende behoefte aan die heroorweging van gesondheids- en maatskaplike strategieë sodat die rehabilitasiebehoeftes van mense met chroniese siektes en gestremdheid doeltreffender gepak kan word. Die navorsingsplan van hierdie leerstoel sal Suid-Afrika posisioneer as 'n wêreldleier op die gebied van effektiewe, kostedoeltreffende rehabilitasiedienste vir daardie onvervulde behoeftes van sy mense wat deur chroniese siekte en gestremdheid benadeel word. Dit plaas enorme langtermyn-spanning op individue, gesinne, gemeenskappe en regeringshulpbronne. In laer-middelinkomstelande, waar gesondheidsbegrotings reeds onvoldoende is, kan bykomende koste vir chroniese siektes en gestremdheidsbestuur doodeenvoudig nie sonder innovasies geabsorbeer word nie."

Louw het 'n BSc-graad aan die Universiteit van Wes-Kaapland verwerf, gevolg deur 'n meesters- en 'n doktorsgraad aan die Universiteit van Suid-Australië. In 2008 het sy die Neuromeganiese Sentrale Analitiese Fasiliteit aan die Universiteit Stellenbosch tot stand gebring en in die proses die infrastruktuur verskaf wat so nodig was vir navorsing op haar gebied. 

Caption: Profs Xikombiso Mbhenyane and Quinette Louw.

​Photos: Damien Schumann