Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US sleutelvennoot in SA se eerste sonaangedrewe ontsoutingsprojek
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 26/06/2018

Die Universiteit Stellenbosch (US) is een van die sleutelvennote in 'n projek om Suid-Afrika se eerste sonaangedrewe ontsoutingsaanleg by Witsand in die Suid-Kaap te vestig. Die projek is geïnisieer deur prof Erwin Schwella van die US se Skool vir Publieke Leierskap en die Universiteit van Tilburg in samewerking met Hessequa Munisipaliteit met wie die US 'n formele Memorandum van Verstandhouding het.

Die projek word gesamentlik deur Wes-Kaapse regering (dmv sy droogteverligtingsfonds) en die Franse Tesourie befonds. Die ontsoutingsaanleg sal na verwagting teen die einde van Oktober 2018 by Witsand in bedryf wees. Witsand is vir die projek gekies omdat dit dikwels aan kritieke watertekorte ly.

Die aanleg sal slegs deur sonkrag aangedryf word en 100kl varswater per dag produseer om die normale plaaslike waterbehoeftes aan te spreek. Dit sal ook drinkwater buite sonligure voorsien deur middel van 'n verbinding met die plaaslike elektrisiteitsnetwerk. Die aanleg sal aansienlik goedkoper wees om te bedryf as dié wat op elektrisiteit aangewese is en sal drinkwater aan baie huishoudings kan lewer.

In 'n onderhoud op Radio Sonder Grense, het Schwella gesê die projek “maak deel uit van 'n eko-innovasiestelsel wat ons besig is om op die been te bring om sosiale innovasie te bevorder."

“Sosiale innovasie het te make met die verbetering van mense se lewenskwaliteit. Ons skakel met munisipaliteite, die private sektor en die provinsie op verskillende maniere en uit hierdie vennootskap skep ons nuwe geleenthede."

Schwella het die rol van die US se Socionovus in die verband beklemtoon.

Hy het bygevoeg dat indien die projek suksesvol is, die plan is om soortgelyke projekte in ander dele van die land te begin.

Die tegnologie vir die projek is deur die Franse maatskappy Mascara Renewable Water ontwikkel en deur hul plaaslike vennoot TWS-Turnkey Water Solutions na Suid-Afrika gebring. Dit is die wêreld se eerste omgekeerde osmose-ontsoutingstegnologie wat met fotovoltaïese (sonselle) sonkrag sonder batterye gekombineer is. Dit is ontwerp om, teen 'n mededingende prys en sonder  koofstofuitlatings, drinkwater aan kusgemeenskappe of dié wat van boorgate afhanklik is te verskaf.

Die Uitvoerende Burgemeester van die Hessequa Munisipaliteit Grant Riddles het gesê die vennootskappe tussen die verskillende rolspelers “sal 'n groen ekonomie verseker wat daarop gemik is om omgewingsrisiko's en ekologiese skaarstes te verminder".

Daar is ook sonaangedrewe ontsoutingsaanlegte in Abu Dhabi en Mosambiek.