Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Verslag vestig aandag op uitdagings in gesondheidsonderrig
Outeur: FMHS Marketing & Communication / FGGW Bemarking & Kommunikasie
Gepubliseer: 15/06/2018

'n Omvattende verslag oor die uitdagings in die opleiding van gesondheidswerkers is onlangs vrygestel.

'n Paneel van 10 lede het onder leiding van prof Jimmy Volmink, Dekaan van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) aan die Universiteit Stellenbosch, die verslag namens die Wetenskapakademie van Suid-Afrika (ASSAf) saamgestel.

“Die viervoudige siektelas in Suid-Afrika, die tekort aan opgeleide gesondheidswerkers, veral in gebiede met te min hulpbronne en in die platteland, en die voortslepende krisis in hoër onderwys bied unieke uitdagings aan die gesondheidswetenskappe onderrigsektor," sê Volmink, wat die paneel se bevindinge in Pretoria bekend gemaak het.

Die verslag, genaamd “Reconceptualising Health Professions Education in South Africa", poog om die hele waardeketting van gesondheidswetenskappe onderrig aan te spreek, van die keuring van studente, pedagogiese ontwikkeling en die ontleding van huidige knelpunte in die stelsel tot hoe die gesondheidswetenskappe onderrigstelsel in die toekoms gefinansier en gereguleer kan word.

Die paneel het 'n stel van 16 aanbevelings gemaak, wat 'n eenstemmige blik bied op die transformasie wat in die onderrig en opleiding van gesondheidswerkers in Suid-Afrika benodig word om die huidige pogings te konsolideer en om nuwe pogings te versterk wat die ernstige kwantitatiewe en kwalitatiewe tekorte in die gesondheidswerksmag aanspreek en sodoende die gesondheid van die nasie verbeter.

Die aanbevelings is gemik op 'n breë gehoor, onder meer beleidmakers en opvoeders, en sluit die volgende in:

  • Daar is 'n behoefte om die keuringsproses van studente te herkonseptualiseer met die doel om die kriteria wat geëvalueer word, uit te brei.

  • Die keuring en opleiding van gesondheidswerkers moet ongelykheid en die behoeftes van die mees onderbediende gemeenskappe aanspreek deur te fokus op primêre gesondheidsorg en meer gesondheidswerkers aan landelike gebiede te lewer.

  • Akademiese instellings in die openbare sektor moet ondersteun word sodat meer gesondheidswerkers opgelei kan word.

  • Universiteite moet verantwoordelikheid aanvaar vir die opleiding en professionele ontwikkeling van gesondheidswerkers, van voorgraadse vlak tot hul internskap en gemeenskapsdiens.

  • Om interprofessionele onderwys en samewerkingspraktyk (IPECP) op 'n volhoubare wyse in die onderrig van gesondheidswerkers in Suid-Afrika vas te lê, moet 'n nasionale studiegroep met verskeie belanghebbendes gestig word om 'n strategiese plan vir IPECP te ontwikkel en die implementering daarvan te lei.

  • Dringende optrede word benodig om die bestuur van befondsing vir die gesondheidswetenskappe te verbeter deur die kapasiteit en momentum van die Gesamentlike Komitee oor Gesondheidswetenskap Onderrig (JHSEC) op te bou.

  • Die beplanning van menslike hulpbronne, die toewysing van hulpbronne en begrotings moet verbeter word.

Die volledige verslag is beskikbaar by www.assaf.org.za

Onderskrif: Prof Jimmy Volmink het die paneel van 10 lede gelei wat die verslag namens ASSAf saamgestel het.

​Bannier-foto deur Sam Reinders.