Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Maties reik uit na die gemeenskap
Outeur: Division for Social Impact
Gepubliseer: 12/06/2018

ʼn Groep studentevrywilligers van Matie Gemeenskapsdiens (MGD) van die Universiteit Stellenbosch se Primêre Gesondheidsorg-program het op Saterdag 26 Mei ʼn gesondheidsbevorderingsdag by die Kalkfontein-gemeenskapsaal aangebied.

Die doel van die dag was om die simptome van gesondheidskwessies soos diabetes, hipertensie en hartsiekte te identifiseer, en advies oor gesondheidskwessies aan plaaslike inwoners te gee.

TygerBurger, ʼn weeklikse gemeenskapskoerant, het hierdie artikel oor die geleentheid gepubliseer.

Die geleentheid, wat deur mev Avril Whate, ʼn senior projekbestuurder by Primêre Gesondheidsorg by Tygerberg bestuur en gekoördineer is, is deel van die MGD Primêre Gesondheidsorg-program. Hierdie program bied ʼn holistiese nauurse en primêre gesondheidsorgdiens aan sekere gemeenskappe van die Wes-Kaap wat beperkte toegang tot gesondheidsorg het.

Die doelwitte van die program is om:

  • holistiese en integrerende bestuur te bevorder;
  • gesondheidsbevordering en -opvoeding aan kliënte te bied;
  • die voorkoming van siektes deur toepaslike sifting te bevorder;
  • opleiding aan studentevrywilligers te bied;
  • ʼn platform vir akademiese steun en ontwikkeling te skep;
  • ʼn platform vir studente- en studenteleierskapsontwikkeling te bied; en
  • die ontwikkeling van gemeenskapsvrywilligers te bevorder.

“Ons missie is om met gemeenskappe in hul spesifieke konteks te skakel deur die aanbied van ons dienste en gesondheidsorgopvoeding om hierdie gemeenskappe te bemagtig om hul eie ontwikkeling en welsyn te verbeter en te handhaaf, waardeur die hoop op ʼn volhoubare toekoms geskep word," vertel mev Whate.  

Die inisiatief dra ook by tot die professionele ontwikkeling van studente en verbeter hul kliniese vaardighede deur bykomende opleiding te verskaf. Die studente kry ook die geleentheid om tyd met pasiënte deur te bring en na hul stories te luister, wat positief tot die opleiding van voorgraadse gesondheidspersoneel bydra.

Skakel met mev Whate vir verdere inligting oor die program en kliniekdatums by acw@sun.ac.za.