Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Palmiet-vleilande verdwyn vinnig
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 04/06/2018

Palmiet-vleilande bied belangrike ekosisteemdienste aan die samelewing, maar is in so 'n kritieke toestand dat indien ons nie nou optree nie, hulle dalk binnekort voor ons oë kan verdwyn.

“Daar is reeds gerapporteer dat meer as 65% van Suid-Afrika se vleilande en verwante rivierstelsels beskadig is en 50% na beraming vernietig is. As stappe nie dadelik geneem word om palmiet-vleilande wat deur erosie bedreig word, te herstel nie, kan hierdie vleilande teen 2065 opgedroog of verlore wees."

Só sê dr Alanna Rebelo, 'n vleiland-ekoloog en nadoktorale navorser in die Departement Bewaringsekologie en Entomologie aan die Universiteit Stellenbosch (US). Rebelo het onlangs haar doktorsgraad in Bewaringsekologie aan die US behaal.

Haar navorsing het op die Theewaterskloof- en Goukou-vleilande in die Wes-Kaap sowel as die Kromme-vleiland in die Oos-Kaap gefokus. Die drie vleilande is in die Kaapse Floristiese Streek  ̶  een van die wêreld se biodiversiteit-brandpunte  ̶  geleë  en hul onderskeie plantegroeisamestelling is soortgelyk aanmekaar. Twee van hierdie palmiet-vleilande is naby munisipale opgaardamme wat water aan onderskeidelik Kaapstad en Port Elizabeth voorsien.Rebelo.JPG

Rebelo het die chemiese aspekte van die grond en water in die vleilande, asook hul plantegroeistruktuur en grondwater-parameters ondersoek om ʼn beter idee van hul biochemiese samestelling te probeer verkry, en veral die fisiese aspekte wat die plantegroeistruktuur dryf.

Sy het onder andere lugfoto's ontleed en afstandswaarnemings- en modelleringstegnieke gebruik om die huidige en historiese verspreiding van vleilande en wat van hulle oorgebly het te bepaal. Verder het Rebelo probeer vasstel hoe hul ruimtelike verspreiding oor tyd heen verander het en wat die hoofdrywers hiervan is. Sy wou ook bepaal hoe vleilande funksioneer in die verskaffing van ekosisteemdienste.

Rebelo sê vleilande word as een van die rykste ekosisteme beskou in terme van die ekosisteemdienste wat hulle bied.

“Hulle maak vloede minder gevaarlik, verminder waterbesoedeling, hou sediment (afsaksel) terug, bied skoon water en kos vir plaaslike gemeenskappe, en absorbeer en berg atmosferiese koolstofdioksied. Vleilande het ook waardevolle ondergrondse veengrond. Die vernietiging van die veengrond sal tot aardverwarming bydra."

Rebelo sê ten spyte hiervan het vleilande se komplekse ekologie daartoe gelei dat daar min studies oor hulle gedoen is. Sy voeg by dat Suid-Afrika se vleilande nie goed verstaan word nie en dat baie besig is om agteruit te gaan.

“Die ekosisteemdienste wat palmiet-vleilande bied kan binnekort iets van die verlede wees."

“Die oorblywende vleilande word deur verskeie probleme bedreig, waaronder die verwydering van vleilande vir landbou, erosie van slote of kanale, besoedeling deur kalk en kunsmis, indringerspesies, toenemende oorstromings en swak brandbeheer."

“Paaie wat gebiede in twee verdeel het ook 'n negatiewe impak op palmiet-vleilande omdat hulle knakpunte in vleilandstelsels veroorsaak wat dikwels erosie tot gevolg het en uiteindelik die vleiland uitdroog."

“Sodra hierdie erosie begin, is dit onmoontlik vir die ekosisteem om te herstel sonder aktiewe rehabilitasie wat duur is. Hierdie uitdroging van vleiland lei tot 'n verskuiwing in plantegroei- gemeenskappe."

Rebelo wys daarop dat die waarde van palmiet-vleilande in terme van watersuiwering oor die hoof gesien is en dat dit eerder as vrugbare grond vir voedselvoorsiening beskou is.

“Gevolglik is baie van hierdie palmiet-vleilande vir landbou omgeploeg hetsy vir boorde of weiding."

Sy sê dit is jammer dat grondeienaars dikwels glo palmiet “smoor"  riviere en dat dit verwyder moet word.

“Dit is in die 'smoor' van riviere dat palmiet in staat is belangrike ekosisteemdienste aan grondeienaars en ander mense verder stroomaf te lewer. Palmiet verminder die krag van gevaarlike vloede en ook moontlike skade aan infrastruktuur. Deur die beweging van water te versprei keer palmiet dat afsaksel in damme ophoop en help dit ook om water te filtreer en die waterkwaliteit te verbeter.

Rebelo sê haar bevindinge beklemtoon die uniekheid en waarde van palmiet-vleilande, en vestig ook die aandag op hul agteruitgang en hoekom hulle bewaar en herstel moet word.

“Hopelik sal die bevindinge van my studie bydra tot beplanning rakende die bewaring en herstel van palmiet-vleilande, en ook moontlike beleid, met werklike implikasies vir die beskerming van ekosisteme en biodiversiteit."

“Die beskerming en herstel van ons vleilande behoort 'n nasionale prioriteit te wees," voeg Rebelo by.

  • Hooffoto: Palmiet
  • Foto 1: Dr Alanna Rebelo: Fotograaf: Hennie Rudman

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Dr Alanna Rebelo

Departement Bewaringsekologie en Entomologie

Universiteit Stellenbosch

Sel: 0812189284

E-pos: Alanna.rebelo@gmail.com

     UITGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 4921

E-pos: viljoenm@sun.ac.za