Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kom deur die eksamens
Outeur: Corporate Communications Division
Gepubliseer: 29/05/2018

Dit is belangrik dat studente geestelik en fisies gereed is om die volume akademiese werk te hanteer en elke eksamensessie met selfvertroue te benader. Studentesake se Elmien Sinclair, opvoedkundige sielkundige en Hoof van die Eenheid vir Akademiese voorligting en Ontwikkeling aan die Universiteit Stellenbosch (US)  deel 'n paar belangrike wenke met student om eksamentye te oorleef.

 Luister na die MFM radio-onderhoud wat onlangs met haar gevoer is:

 

 


  1. Wat is die beste manier om die groot volumes werk aan te pak en te leer vir die eksamen?

- Maak 'n studietydrooster

- Moenie wag totdat jy lus voel om te begin studeer nie. Die kans is skraal dat dit sal gebeur. Jy moet 'n bewuste besluit neem om te begin studeer.

- Breek jou werk op in verteerbare stukkies. Dit sal jou taak verlig as die werk wat jy moet leer meer georganiseerd is.

- Leer die moeilike werk gedurende tye van die dag wanneer jy meer produktief is.

- Vroeg in die oggend en later in die aand werk is goeie hersieningstye.

- Onthou: Hoe om 'n olifant te eet? Een hap op 'n slag!

 

2. Watter wenke is daar oor studiemetodes en effektiewe gebruik van studietyd?

- Almal is uniek en anders. Wat vir 'n vriend werk, sal nie noodwendig vir jou werk nie.

- Moenie jou vriend se studiemetodes naboots nie, tensy jy op dieselfde manier akademiese werk prosesseer en leer.

- Wees kreatief  tydens studietyd en gebruik maniere soos kleure, geheuekaarte, flitskaarte, sleutelwoord of kolletjies om werk te memoriseer.

- Jy hoef nie op die stereotipiese wyse te leer deur by 'n lessenaar te sit nie. Jy kan in jou kamer rondloop, notas oral opplak; met jouself praat of in die tuin gaan sit.

-  Sommige mense studeer beter met instrumentale agtergrondmusiek, ander met geurige kerse wat brand en ander weer met absolute stilte. Vind uit wat vir jou werk, want hoe ons op skool geleer word, werk nie noodwendig by 'n universiteit nie.

 

3. Wat is die beste manier om stress te hanteer en dit in positiewe energie te omskep?

- Beplan tyd vir ontspanning.

- Omring jouself met positiewe mense.

- Stel klein doelwitte vir jouself en beloon jouself vir die ure wat jy gestudeer het.

- Lag is die beste medisyne en probeer ook 'n goeie dosis humor insluit in die tyd.

- Moenie vergeet om jouself te versorg nie; eet gereeld, want jy verbrand baie energie terwyl jy studeer.

- Drink baie water en oefen.

- Moenie te veel koffie drink nie en vermy energiedrankies.

 

4. Hoe gereeld moet studente breek en wat moet hulle doen in die rustye?

- Navorsing toon dat die gemiddelde mens vir ongeveer 25 minute aaneen kan konsentreer.

- As jou konsentrasie span 20 minute is, neem dan 'n 5 minute breek en doen 2 tot 4 stelle van 20 minute studeersessies voordat jy 'n langer ruskans neem.

- Oorweeg die Pomodoro app om jou te help met tydsbestuur.

- Doen iets tydens jou blaaskans wat jou aandag wegneem van die studies. Op die manier sal jy weer verfris en met nuwe ywer die volgende studietyd aanpak.

- Beslis vermy om heeltyd te peusel aan gemorskos; op die Internet of sosiale media te gaan en  oormatige kafeïengebruik.

 

5. Wat moet jy doen net voor jy eksamen skryf?

​- Kry 'n goeie nagrus

- Moenie probeer om deurnag te studeer nie

- Eet 'n gesonde ontbyt.

- As jy mense hoor praat oor wat hulle geleer het end it maak jou senuagtig, sit jou oorfone op en luister na jou gunsteling musiek.

-     Glo en vertrou in jouself

 

6. As studente akademiese berading nodig het, kan hulle die Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling in Victoriastraat 37 of US se webruimte besoek by www.sun.ac.za/cscd.

Volg ook Student Affairs en #SUexam op Facebook vir gereelde studiewenke.