Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Departement Afrikaans bied internasionale konferensies oor vertaling en tolking aan
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 24/05/2018

Die Departement Afrikaans en Nederlands van die Universiteit Stellenbosch (US) bied vandeesmaand twee internasionale konferensies oor tolking en vertaling aan – dié van die organisasie vir nieprofessionele tolking en vertaling (NPIT4) van 22 tot 24 Mei, en van die Afrikavereniging vir vertaalstudie (ATSA) van 25 tot 26 Mei.

Albei konferensies vind by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS) by die US plaas.

Volgens prof Harold Lesch, 'n dosent in Tolking en Afrikaanse Taalkunde, en hooforganiseerder van die NPIT4-konferensie, bied die NPIT4 “navorsers en praktisyns op die gebied van tolk- en vertaalstudie 'n geleentheid om oor onlangse en relevante werk op die vakgebied en in verband met die werksaamhede van nieprofessionele tolke en vertalers te gesels".

Die konferensie sal voortbou op vorige internasionale gesprekke oor tolking en vertaling deur nieprofessionele tolke en vertalers wat die organisasie in 2012 in Bologna, in 2015 in Mainz en in 2016 in Zürich aangebied het. Die tema van vanjaar se konferensie is die balans tussen die vereiste vaardighede en die beskikbare hulpbronne vir nieprofessionele tolking en vertaling.

“Taaltussengangers het sekere vaardighede nodig. Tog beskik nie alle nieprofessionele tolke en vertalers oor hierdie vaardighede nie, of kom sekere vaardighede kort, maar lewer nietemin 'n diens – en 'n funksionele diens daarby. Die skeiding tussen 'n eerste en tweede ekonomie is duidelik sigbaar in Afrikaverband, en nieprofessionele taaltussengangers het klaarblyklik 'n rol te speel. Boonop stroom mense na welvarende lande, ook na Suid-Afrika van ander Afrikalande, en uitgebreide kommunikasie – uitgebrei danksy die diens van 'n tolk – in plaas van liniêre kommunikasie is 'n daaglikse werklikheid. Die taalkombinasies bring ook sy eie uitdagings mee," sê Lesch.

Van die onderwerpe wat by die drie dae lange konferensie bespreek sal word, sluit in die omskrywing en kartering van nieprofessionele tolking en vertaling, ad hoc-tolking en -vertaling in die daaglikse lewe, taalmakelary deur familielede (gesproke, geskrewe of gebaretaal), nieprofessionele gebaretaaltolking, en interdissiplinêre benaderings tot navorsing oor nieprofessionele tolking en vertaling.

“Tolking op sigself is 'n eeue oue praktyk. Die klem het maar eers in die onlangse verlede op die professionele tolk en vertaler begin val. Tog reken ek die rol van die nieprofessionele taaltussenganger bied ook 'n bron vir navorsing en empiriese studie. Die term 'nieprofessioneel' het natuurlik sekere implikasies, maar verwys in wese na 'n onopgeleide, semi-opgeleide of onbetaalde taalpraktisyn, in teenstelling met die professioneel opgeleide en ervare tolk. Ek glo daar is ruimte vir albei in ons omstandighede," voeg Lesch by.

Hoofsprekers sluit in prof Cecilia Wadensjö, 'n professor in Tolk- en Vertaalstudie aan die Instituut vir Tolk- en Vertaalstudie van die Departement Sweedse Taal en Meertaligheid by die Universiteit van Stockholm; prof Leslie Swartz, 'n kliniese sielkundige en uitgelese professor in Sielkunde aan die US, en prof Maria Tymoczko, professor in Vergelykende Letterkunde aan die Universiteit van Massachusetts Amherst. 

Die ATSA-konferensie, wat op Vrydag 25 Mei begin, is op sy beurt die eerste amptelike konferensie van dié vereniging. Konferensiegangers sal oor vertaling en konteks beraadslaag en sal in dié verband beskouings oor en van Afrika ondersoek. ATSA is in 2016 in Nairobi met die US se prof Ilse Feinauer as stigterslid tot stand gebring. Die Stellenbosse konferensie is reeds by die stigtingsvergadering so beplan dat dit met die US se Eeufeesvieringe sowel as Afrikadag saamval.

“Om oor Afrika as konteks te besin, kan 'n mens die vasteland uit 'n aantal oogpunte beskou. In vertaalstudie kan onder meer 'n postkoloniale en polities-kulturele oogpunt byvoorbeeld gebruik word. Navorsers kan vertaling ook uit alternatiewe konseptuele oogpunte bestudeer," sê Feinauer, die Visedekaan: Tale in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe, en professor in Vertaalstudie en Afrikaanse Taalkunde in die Departement Afrikaans en Nederlands. 

“Onlangse werk om die verband tussen vertaling en ontwikkeling te verstaan is een moontlike oogpunt. Daar blyk ook vele moontlikhede te wees vir sosiologiese studie, want daar is nog weinig uit 'n sosiologiese oogpunt oor vertaling in Afrika geskryf. Vakkundiges op die gebied van vertaalstudie het ook nog nie die ekonomie, veral die informele ekonomie, as 'n gespreksgenoot vir vertaalstudie verken nie. Die mondelinge kultuur van Afrika bied verdere moontlikhede. Laastens is die onderrig van vertaling en tolking in Afrika teen die agtergrond van ons unieke kontekstuele beperkinge ook 'n moontlikheid wat ondersoek regverdig," voeg Feinauer, die sameroeper van die ATSA-konferensie, by. 

Volgens Feinauer word afgevaardigdes van oor die hele Afrika verwag, onder andere van Benin, Kameroen, die Sentraal-Afrikaanse Republiek, die DRK, Ghana, Kenia, Marokko, Niger, Nigerië, Suid-Afrika en Tanzanië, sowel as van lande soos België, Kanada, Switserland en die Verenigde Koninkryk. Van die onderwerpe wat bespreek sal word, sluit in teoretiese werk oor konteks en universalisme in vertaalstudie, onder meer die implikasies van kontinentalisme; begrippe van vertaling in soverre dit deur Afrika as konteks beïnvloed word; empiriese data oor vertaal- en tolkpraktyke in Afrika, en 'n vergelyking tussen data uit Afrika en data uit ander omgewings.

“Ná die konferensie vind die vyfde skool vir PhD-studente in Vertaalstudie in Afrika van 28 Mei tot 1 Junie plaas. Die gasprofessor by daardie geleentheid is prof Tymoczko van die Universiteit van Massachusetts Amherst. Ek bedank graag in die besonder die Universiteit Stellenbosch vir die Afrikasamewerkingstoelaag, wat sowel die ATSA-konferensie as die PhD-skool grotendeels finansier."