Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US Koor sing in Verenigde Koninkryk
Outeur: Rozanne Engel - Corporate Communications / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 23/05/2018

Die talentvolle Universiteit Stellenbosch (US) Koor, wat as een van die beste universiteitskore ter wêreld bestempel word, maak gereed om eersdaags aan 'n prestigeryke internasionale kooreisteddfod deel te neem.

Die koor sal van 29 Junie tot 15 Julie 2018 in die Verenigde Koninkryk wees om mee te ding in die Llangollen Internasionale Musiekeisteddfod in Wallis, en sal ook op uitnodiging in Londen en Bath optree.

Buiten dat die Llangollen Eisteddfod 'n internasionaal bekende koormusiekfees is, vier dit terselfdertyd die musiek, dans en kultuur van nasies wêreldwyd. Met sy deelname aan hierdie hoog aangeskrewe musiekfees begin die US Koor nou sy horisonne verbreed om verdere ervaring op te doen en hom met ander musiektalent van oor die hele wêreld te meet.

Dirigent André van der Merwe sê hierdie besoek aan die Verenigde Koninkryk beteken baie vir die koor. “Dit is 'n opwindende geleentheid om Suid-Afrikaanse kultuur op 'n waarlik internasionale verhoog ten toon te stel. Ons sal in drie kategorieë meeding en die koor is ook genooi om by 'n spesiale internasionale vieringskonsert voor die wedstryd te sing."

Die koor is reeds geruime tyd hard aan die werk om vir die besoek voor te berei, en oefen die afgelope paar maande al twee maal per week vir twee uur op 'n slag – iets waarmee André baie ingenome is. Die koor beplan 'n diverse program, van klassieke tot popmusiek.

“Vir ons popkategorie het ek Baba Yetu deur Christopher Tin, Supermarket Flowers deur Ed Sheeran sowel as Angel by the Wings deur Sia spesiaal vir ons koor verwerk. Ons sal ook twee komposisies deur die Kaapstadse komponis Hendrik Hofmeyr uitvoer," sê André.

Die US Koor is een van Suid-Afrika se voorste jeugontwikkelings- en koorprogramme. Oor die afgelope 82 jaar weerspieël hulle die veranderinge in die land se groter samelewing en getuig deesdae van die krag van musiek om diversiteit en harmonie oor samelewingsgrense heen teweeg te bring.

Met hulle terugkeer na Suid-Afrika sal die koor as 'n spesiale gas optree by die Interkultur-wêreldkoorspele, wat vanjaar in Tshwane gehou word. Die US Koor was in 2017 vir die vyfde jaar in 'n ry boaan die Interkultur-ranglys van die beste 1 000 kore ter wêreld ná deelname aan die wêreldkoorspele in Riga, Letland, wat Interkultur in Julie verlede jaar aangebied het.

“Ons plek op die ranglys is 'n wonderlike bonus, en 'n teken van die studente se toewyding en talent. Daarmee saam kom ook 'n verantwoordelikheid om daarna te streef om die beste te wees wat ons moontlik kan, sowel op as weg van die verhoog. Op 'n manier is dit wonderlik dat ons nie meeding wanneer die wêreldkoorspele in ons eie land aangebied word nie. Nou kan ons eerder daarop konsentreer om mense te wys wie ons is," sê André.

Gaan na https://www.youtube.com/user/USChoirKoor om na die US Koor te kyk en te luister.​