Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US Jazzorkes skitter met die Madiba/Hugh Masekela Eeufeesvieringskonsert
Outeur: Asiphe Nombewu/ Corporate Communication
Gepubliseer: 18/05/2018

Ter herdenking van die 100 jaar van Nelson Mandela en die Universiteit Stellenbosch (US) se erfenis, het die US se Jazzorkes 'n Erfenisvieringskonsert op Vrydag, 11 Mei, in die Endlersaal op Stellenbosch gehou.

Met die konsert is daar hulde gebring aan die legendariese jazztrompetspeler, komponis en kultuuraktivis Hugh Masekela, wat op 23 Januarie 2018 oorlede is. Sessies deur die plaaslike solosangers Sima Mashazi, Babalwa Mentjies en Mynhardt Kruger, wat 'n verskeidenheid van Masekela se bekende melodieë uitgevoer het, het deel van die konsert uitgemaak.

Die aand is spesifiek gewy aan die bekendstelling van die nuwe maatskaplike-impakinisiatief van die US se Departement Musiek, Roots@SU. Hierdie inisiatief sluit 'n aantal programme en projekte in waaronder die Departement Musiek se Sertifikaatprogram, die Landelikebetrokkenheidsprogram, die Diensleerprogram, die Stellenbosse Internasionale Kamermusiekfees, die Endlerkonsertreeks, en 'n verskeidenheid afkampus-vennootskapsprogramme.

Die US Jazz-orkes, onder leiding van Felicia Lesch, was die groot aantrekkingskrag en het musiekstukke uit hulle Sertifikaatprogram gelewer. Die aandgeleentheid is bygewoon deur gemeenskapsvennote van Cloetesville, Mitchells Plain, Athlone, Kuilsrivier, Khayelitsha, en selfs van so ver as Mamre en Ceres.

Die aand het ook gedien as 'n bekendstellingsgeleentheid vir die vennootskap tussen die US en die e'Bosch-erfenisprojek. Verteenwoordigers van e'Bosch in die gemeenskappe van Cloetesville, Idasvallei, Jamestown, Khayamandi, Klapmuts, Pniel, Kylemore, Raithby, Vlottenburg en Stellenbosch-Sentraal, asook musiekonderwysers en skoolhoofde uit hierdie gemeenskappe, het die konsert bygewoon.

Lesch, wat 'n dosent aan die Departement Musiek is, het gesê sy het nog altyd in die medium van groot orkeste geglo, aangesien dit 'n goeie manier is waarop mense van ritme, melodieë en hulleself kan leer.

“Ek het die Sertifikaatprogram in 2005 oorgeneem. Dit is 'n deeltydse musiekgeletterdheidsprogram wat oop is vir enigeen wat musiek op 'n deeltydse basis wil leer. Ons voorsien in die behoeftes van personeel, studente en gemeenskapslede in die algemeen," het sy gesê.

Afgesien van die eer om 'n Fiësta-toekenning te ontvang, het die US Jazzorkes die verhoog gedeel met van die voortreflikste jazzmusikante: Judith Sephuma, Gloria Bosman, Amanda Strydom, Sibongile Khumalo en Timothy Moloi.

“Ek dink die individuele stories van studente oor hoe hulle lewe sedert hul betrokkenheid by die program verander het, verdien om hier erken te word." Lesch het bygevoeg dat hulle gelukkig genoeg was om opdragte vir die Woordfees los te slaan.

Sy sluit af deur te sê, “Kinders was baie belangrik vir Nelson Mandela en die Erfenisvieringskonsert gaan oor kinders. Ons was geweldig opgewonde dat kinders op die verhoog by ons kom aansluit het om sowel Madiba as Masekela se nalatenskap te kon vier."

Lesch is passievol oor jazzonderrig en neem sedert 1999 studente na die Nasionale Jeugjazzfees. Haar betrokkenheid by die fees het na onderrig oorgespoel en later na betrokkenheid as lid van die keuringspaneel van die Nasionale Skole Big Band, waarvoor sy in 2009 as dirigent gekies is.