Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Grondkunde bied 'sleutel tot landbou in die toekoms'
Outeur: Jorisna Bonthuys
Gepubliseer: 14/05/2018

Landbounavorsing behels die “mees komplekse integrasie van wetenskaplike dissiplines in studies en ontwikkelingstrewes”, aldus Prof. Leopoldt van Huyssteen, emeritus-professor in the Departement Grondkunde van die Universiteit Stellenbosch (US).  

Hy het onlangs ’n gedenklesing gelewer as deel van die Fakulteit AgriWetenskappe se eeufeesvierings op die kampus. Prof. Van Huyssteen het bestek opgeneem van onderrig en navorsing in die departement die afgelope 100 jaar. 

Grondkundiges word toenemend gevra vir hul insette om probleme te takel en om die wetenskap hiervoor in te span. “Ten einde hierdie komplekse uitdagings die hoof te bied, moet grondkundiges ’n meer holistiese benadering volg,” het hy gesê. “Terwyl hulle saamwerk met antropoloë, sosioloë, ekonome, insektekundiges, plantpatoloë, bewaringskundiges, kundiges oor onkruid en ander landboukenners, moet hulle ook spreekwoordelik hul voete in die veld hou.” 

Grond is belangrik om verskeie redes, het hy op gewys. Dit verskaf die grondslag vir onder meer die produksie van kos, veevoer, brandstof en natuurlike vesels. Dit help verskaf skoon water en speel ’n rol in voedingstofsiklussering asook die daarstel van sekere ekosisteemdienste. Grond is ook ’n beperkte natuurlike hulpbron en is nie-herwinbaar op die menslike tydskaal. Net ’n beperkte gebied van die aardoppervlak is met vrugbare grond bedek en is toenemend onder druk weens habitatverval, swak bestuur en grondverliese weens verstedeliking. 

Prof. Van Huyssteen het ook besin oor hoe die mensdom oor grond dink. “Dit (grond) is die groot gelykmaker, die finale grensgebied of die stortingsterrein,” het hy gesê. “Grond is ’n noodsaaklike natuurlike hulpbron. Dit filtreer water en afvalprodukte, produseer en absorbeer gasse en bied ’n tuiste vir organismes. Dit is ’n medium vir gewasproduksie en wortelgroei, help om afvalstowwe af te breek en dien as materiaal in die boubedryf, die kunste en in medisyne. Grond is ook die voetspoor van ons geologiese, biologiese, menslike en klimaatsgeskiedenis.” 

Prof. Van Huyssteen beskou grondkunde as “ ’n onontbeerlike studieveld” vir toekomstige volhoubare kosproduksie. Talle aspekte van wetenskap en sosiologie is van kernbelang wat betref die toepaslikheid van grondkunde, asook die waarde daarvan, het hy aangedui. “Die rol van grond word opgeweeg in terme van die verskillende funksies daarvan, soos deur die samelewing bepaal.” As die bewaring en rasionele gebruik van grond nie as belangrik genoeg geag word nie sal die waarde daarvan opgeweeg word op ’n manier wat die verval van gedeelde erfenis meebring.” 

“Grond dra sy probleme – ons voetspore – op die oppervlakte,” het hy gesê. Meer grond is die afgelope 50 jaar gewysig vir gewasproduksie as in die 150 jaar vanaf 1700 en 1850. Gedurende hierdie tydperk het die onttrekking van varswaterbronne verdubbel (70% hiervan vir landboudoeleindes) en die opdamming van water vervierdubbel. Ongeveer die helfte van alle sintetiese kunsmis wat tot nou gebruik is word sedert 1985 benut. Die atmosferiese vlakke van CO2 het ook toegeneem, met 32% vanaf 1750. Ongeveer 60% van hierdie styging is sedert 1959 aangeteken.  

Navorsing in grondkunde het talle gebruike, onder meer gebruik in forensiese ondersoeke en om sosio-ekonomiese voordele te ontsluit. “Grondkundiges moet daarvan kennis neem dat hul werk deesdae meer verband hou met sosio-ekonomiese faktore as voorheen." 

Dit sal in die toekoms nie moontlik wees om die wêreld se groeiende bevolking van kos te voorsien as grondbestuur nie verbeter nie. “Die feit dat 850 miljoen mense reeds in 2006 sonder kossekerheid was en dat miljarde mense verskuilde hongertoestande beleef, laat geen ruimte vir gerustheid nie,” het hy gesê. Die graantekorte wat byvoorbeeld voortaan voorsien word, noodsaak verbeterde grondbestuurstelsels en tegnologie wat grondbesparings kan meebring met intensiewer produksie in Suider-Afrika en elders waar ekstraktiewe landbou toegepas word.” 

Prof. Van Huyssteen glo dat grondkunde voortaan meer kompleks en ’n interaktiewe wetenskap sal wees as nou. ’n Multidissiplinêre benadering van tradisionele aspekte is nodig wat meer innovasie insluit (in grondekologie en grondekonomie, ens.). “Ons as grondkundiges moet ’n sleutelrol vertolk om die uitdagings van die 21ste eeu die hoof te bied. Ons toekomstige sukses hou moontlik eerder verband met ’n verskuiwing in sommige van ons basiese konsepte en paradigmas as bloot tegniese vooruitgang. 

“Dit is belangrik dat grondkundiges wegbeweeg van reduksionisme en ’n geïsoleerde benadering wat hoofsaaklik fokus op landbou en bosbou,” het hy gesê. “Grond word nou beskou as ’n sleutelaspek wat maklik misbruik kan word en verlore gaan. Dit word beskou as ’n beperkte hulpbron. Grondkundiges moet in die die 21ste eeu inligting kan bied aan ander wetenskaplikes en diegene wat politieke agendas bepaal asook voorbereid wees daarop om grondvoordele in die groter omgewingskonteks optimaal te benut. 

“Gesonde grond is die grondslag van ’n sterk ekonomie en ’n gesonde omgewing. Grond word egter ernstig bedreig, veral weens verval en besoedeling.” 

Die samelewing word tans deur talle kwessies in die gesig gestaar wat direk of indirek met grond verband hou, het hy gesê. Sommige hiervan is van toepassing op verskillende skale en politieke vlakke en sluit die toepassing van die “Internet van Alles” in die landboubedryf in. Die gebruik van sensornetwerke wat aan die internet gekoppel is kan gebruik word om vinnig en akkurate data oor heersende toestande te verkry. “Dit kan help om presiese en grootskaalse outomatisering toe te pas en bestuursbesluite op plase in te lig,” het hy gesê.