Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Inspirerende Baatjes neem leiding by Anatomie en Histologie
Outeur: Carine Visagie
Gepubliseer: 08/05/2018

Borssjirurg dr Karin Baatjes is nie jou gemiddelde dokter of akademikus nie. Sy is pas aangestel as Hoof van die Afdeling Anatomie en Histologie by die Universiteit Stellenbosch, en kry dit steeds reg om verskeie rolle – as dosent, sjirurg, PhD-student en filantroop – te vertolk.

Gelukkig, sê Baatjes, is die Afdeling Anatomie en Histologie in die verlede baie goed bestuur. Toe sy in Februarie 2018 die pos as afdelinghoof oorgeneem het, kon sy haar tyd neem om die afdeling beter te leer ken, te sien hoe dit bestuur word, en begin om potensiële gapings te identifiseer.

Die afdeling is betrokke by die opleiding van voorgraadse studente in alle dissiplines by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, en speel ook 'n rol in die opleiding van nagraadse (MMed en MChD) studente. In terme van navorsing, bied die afdeling 'n BSc Honeursgraad, 'n MSc asook 'n PhD in verskeie dissiplines aan.

Baatjes se visie as hoof van die afdeling is om te sien of sy van die prosesse verder kan verbeter. Sy beoog ook om 'n groter kliniese komponent by te voeg. Op die oomblik is die oorgrootte meerderheid van personeel by Anatomie en Histologie wetenskaplikes. In die toekoms, wil Baatjes meer mediese dokters betrek om sodoende meer kliniese kennis by die programme te voeg.

Aangesien die afdeling raakpunte met verskeie ander departemente het, help dit dat Baatjes reeds sedert 2000 'n US-personeellid is. “Ek ken die meeste van die departemente en personeel baie goed en wil hierdie kennis graag tot die afdeling se voordeel gebruik," sê sy. “Op die oomblik is ek egter steeds besig om te leer hoe alles in mekaar steek."

Met al die verskillende balle wat sy terselfdertyd in die lug hou, wonder 'n mens hoe Baatjes so kalm en positief bly. Sy's egter goed daarmee om skeidslyne in plek te stel en laat nie sommer toe dat haar dae as sjirurg by Tygerberg-hospitaal se borskliniek of haar PhD-navorsing (wat beengesondheid in postmenopousale vroue wat vir borskanker behandel word, ondersoek) met haar nuwe rol as Hoof van die Afdeling Anatomie en Histologie inmeng nie.

“Dinsdae opereer ek heeldag in die teater," sê sy. “Donderdae neem ek deel aan die kliniese en akademiese aktiwiteite in die borskliniek, wat tutoriale asook kliniese en akademiese saalrondtes met voorgraadse en nagraadse studente insluit. Maandae, Woensdae en Vrydae is ek heeldag op my pos by die Afdeling Anatomie en Histologie."

Baatjes se gunsteling-rol is egter dié van dosent en sy is baie gewild onder die studente. “Ek geniet dit om met die studente te werk. Sommige studente dink ek is streng, maar ek moet baie ernstig wees wanneer ons by 'n pasiënt se bed is. Die pasiënte is ons eerste en belangrikste prioriteit," sê sy. “Wanneer ons klaar is met 'n operasie, is dit ook vir my lekker om die studente buite die akademiese konteks 'n bietjie beter te leer ken."

Om te ontspan, hardloop Baatjes graag. As bestuurslid van Reach for Recovery, kombineer sy ook soms haar liefde vir hierdie sport met 'n passie vir borskankerpasiënte. In April 2016, het sy R57 000 vir Reach for Recovery se Ditto-projek ingesamel deur die 42km Weskus-marathon te voltooi. Met behulp van hierdie veldtog, kon meer as 50 borskankerpasiënte wat 'n mastektomie ondergaan het silikoon-borsprosteses ontvang – iets wat hulle andersins nie sou kon bekostig het nie.

As iemand wat altyd op soek is na maniere om ander te help, ongeag haar eie besige skedule, is Baatjes ook op die oomblik by Tygerberg se Pantry Project betrokke. Hierdie gedeelde “kampus-spens" help om studente wat nie kos en byvoorbeeld sanitêreware kan bekostig nie, by te staan.

Wanneer jy haar vra of sy weer binnekort haar sport gaan gebruik om behoeftiges te help, sê Baatjes: “Ongelukkig nie. Op die oomblik hardloop ek net om fiks te bly en kop te hou, veral ná uitdagende dae." Maar, met 'n hart wat 100% in die regte plek is, is die kans goed dat Baatjies binnekort weer by 'n fondsinsamelingsprojek betrokke sal wees.


Onderskrif: Dr Karin Baatjes is onlangs aangestel as Hoof van die Afdeling Anatomie en Histologie aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe by die Universiteit Stellenbosch.