Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe US-visie en -strategie in die pylvak
Outeur: Corporate Communications Division
Gepubliseer: 04/05/2018

3 Mei 2018

Baie dankie aan elkeen wat die Universiteit Stellenbosch (US) se Eeufeesjaar spesiaal help maak. Vanjaar kyk ons egter nie net terug op die verlede nie, maar ook vorentoe – na die pad wat ons nog móét loop.

Ons huidige roetekaart, die Universiteit se Institusionele Voorneme en Strategie 2013–2018 (IVS), insluitend die US se Visie 2030, is vyf jaar gelede opgestel en loop vanjaar uit. Daarom werk ons hard aan ʼn nuwe rigtinggewende plan vir die toekoms.

Ons Visie 2030 was om al hoe meer “inklusief, innoverend en toekomsgerig" te word: ʼn “plek van ontdekking en uitnemendheid waar sowel personeel as studente denkleiers is wat kennis tot diens van alle belanghebbendes bevorder". En ek dink ons het goed gevaar daarmee. Ons het toegang tot die Universiteit verbreed, ons uitnemendheid verder uitgebou en ons impak op die samelewing vergroot.

Omstandighede het verander sedert die IVS opgestel is. Daar was belangrike ontwikkelings in ons sektor en die land in die geheel, sowel as op ons vasteland en elders. Ons leef in ʼn snelveranderende wêreld, en ons moet aanhou verander – nie net om by te hou nie, maar om die pas aan te gee.

Die afgelope twee jaar reeds werk ons intensief aan ʼn nuwe raamwerk vir die toekoms. Dié werk staan onder leiding van prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie en Internasionalisasie, en bestaan uit drie fases.

In fase 1 word die nuwe visie opgestel, sowel as die strategiese raamwerk wat die kern strategiese temas en die institusionele doelstellings vir elk omskryf. As deel van die ontwikkelingsproses het vyf taakgroepe verskeie aspekte ondersoek, en is verskillende vlakke van bestuur telkemale vir insette betrek. Personeellede en studente is oor die Universiteit se waardes vir die toekoms geraadpleeg. En die Raad het ook bydraes gelewer, onder meer oor elemente van ʼn nuwe visie, missie en die waardes vir die Universiteit.

Nou is ons in die pylvak van fase 1. Die nuwe strategiese raamwerk sal voor institusionele strukture soos die Uitvoerende Komitee van die Senaat, die Institusionele Forum en die Senaat dien voordat dit vir goedkeuring aan die Raad voorgelê word.

Fase 2 sal volg wanneer die Raad die nuwe Visie 2040 en Strategiese Raamwerk 2019-2024 goedgekeur het. In hierdie fase word die kern- strategiese temas en doelstellings prakties toegepas deur konteksspesifieke doelwitte te bepaal. Dít impliseer interaksie met fakulteite en ander omgewings om toe te sien dat die strategiese raamwerk en omgewingsplanne met mekaar strook.

Hand aan hand hiermee loop fase 3 – om die gaping tussen strategiebeplanning en -formulering aan die een kant en strategieuitvoering aan die ander kant te oorbrug, met behulp van gepaste strukture en prosesse. Dit behels 'n nuwe benadering tot geïntegreerde beplanning en uitvoering.

Dankie vir al die bydraes tot dusver. Ek moedig almal aan om in die tweede semester in hul betrokke omgewings aan die implementeringsgesprekke deel te neem.

So sal ons die US se Eeufeesjaar op ʼn hoogtepunt afsluit en ons tweede bestaanseeu as ʼn toonaangewende, navorsingsintensiewe universiteit in en vir Afrika doelgerig betree.

Prof Wim de Villiers
Rektor en Visekanselier​