Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Top 2017 1stejaars en hul inspirerende dosente vereer
Outeur: Liesel Koch
Gepubliseer: 25/04/2018

Op 11 April 2018 is die top eerstejaarstudente (van 2017) en die dosente wat hulle inspireer het, deur Universiteit Stellenbosch vereer. Ingenieurswese se top vier is Matthew Baas (E&E), Zander Snel (Siviel), Bianca Jordan (Bedryfs) en Alex Muthua (E&E).

Matthew Baas sê dat dr Naina Ralaivaosaona (Ingenieurswiskunde) die dosent is wat hom die meeste inspireer het. "Selfs met propvol en bedompige klaskamers gedurende die eerste semester het hy altyd daarin geslaag om ons aan te spoor met sy interessante aanbiedings en grappige opmerkings..."

Prof Thinus Booysen (Rekenaarprgrammering), wat Alex Muthua's se geliefkoosde dosent is, sê oor die  skerpsinnige student die volgende: "Ek is ten volle bewus dat ten spyte van 'n skerp intellek, dié prestasie nie net in jou skoot geval het nie. Dit het heelwaarskynlik baie harde werk geverg. Ek wil jou verseker dat dit tot jou voordeel sal wees om jou goeie werksetiek vol te hou."

Prof Marcel Wild (Ingenieurswiskunde) is beide Zander Snel en Bianca Jordan se mees inspirerende dosent wat hulle intellektueel stimuleer het en hulle gefokus gehou het. Sy reaksie op hierdie lofbetuiging is: "Dankie vir die eer! Ek neem aan, maar is nie heeltemal seker nie, dit is omdat ek gereeld aandui dat Wiskunde pret kan wees. Op 'n gevorderde ouderdom luister ek nog steeds na Deep Purple, Moody Blues, Michael (en Millie) Jackson."

Hooffoto van links: Prof Anton Basson (visedekaan: onderrig en gehaltebeheer) Zander Snel, prof Marcel Wild, Bianca Jordan, prof Arnold Shoonwinkel (viserektor: leer en onderrig), Alex Muthua, Matthew Baas, dr Naina Ralaivaosaona en prof Wikus van Niekerk (dekaan: Ingenieurswese).

Inlas: Prof Thinus Booysen.​