Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Studente versterk band tussen menslike en planetêre gesondheid
Outeur: Florence de Vries
Gepubliseer: 24/04/2018

“Daar is ʼn gevestigde verband tussen menslike welsyn en ʼn volhoubare bestaan. Ons is hier om seker te maak dit bly sterk," sê Sibongumenzi Mtshali, die nuwe studentekoördineerder van die Groen Komitee van die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW).

Dié komitee is in 2009 tot stand gebring ­-­ die eerste in sy soort aan die US. Onder die leierskap van prof Bob Mash, uitvoerende hoof van die FGGW se Departement Huisartskunde, het hierdie komitee ʼn klomp inisiatiewe onderneem wat ten doel het om studente en personeellede se verhouding met hul plaaslike omgewing te verbeter.

Mtshali, wat self ʼn mediese student is, verduidelik dat daar ʼn sterk verband tussen die natuur en menslike gesondheid is en dat sy opgewonde is om deel van hierdie pionierspan te wees. “Dis regtig baie eenvoudig. Hoe minder skade ons aan die aarde aanrig, hoe beter is die omgewing waaraan ons onsself blootstel."

Mash eggo Mtshali se standpunt oor die verband tussen die natuur en gesondheid as hy sê dat omgewingsrentmeesterskap – die verantwoordelike gebruik en beskerming van die natuurlike omgewing deur bewaring en volhoubare praktyke – onlangs as ʼn nuwe eienskap van FGGW-graduandi aanvaar is.

“Die verband tussen openbare en planetêre gesondheid raak duideliker. Geneeskunde- en gesondheidswetenskappestudente moet die verband verstaan tussen die omgewingsbepalers van gesondheid op ʼn planetêre skaal, soos klimaatsverandering en oseaanbesoedeling, en hoe dit in plaaslike gemeenskappe en individuele pasiënte manifesteer." Hy verduidelik dat studente sal moet verseker dat die gesondheidstelsel sy eie bydrae tot omgewingsgevare tot die minimum beperk. Om dit te bewerkstellig het die FGGW omgewingsvolhoubaarheid as een van sy strategiese doelwitte gestel.

Vanjaar het die komitee Mtshali aangestel om seker te maak dat studente van die Groen Komitee se talle aktiwiteite bewus is, insluitende die mees onlangse een – ʼn herbebossingsfees wat aangebied word deur Greenpop, ʼn organisasie sonder winsbejag. Mtshali was aan die hoof van agt gesondheidswetenskappestudente wat deelgeneem het aan Greenpop se fees by die Platbos-woud naby Gansbaai in die Wes-Kaap se Overberg-streek. Die studente het gehelp om sowat 5 000 bome te plant.

Volgens Mash is Platbos die tuiste van oeroue bome – waarvan talle ouer as 1 000 jaar is – wat ʼn habitat vir ʼn verskeidenheid van biodiverse fauna en flora bied. Dit sluit die krities bedreigde luiperdpadda, misterieuse bosbokke, krullende varings, fluweelagtige mosse en briofiete in elke skakering van groen in.

Tydens herbebossing word uitheemse plantegroei, wat ʼn brandrisiko inhou, uit ʼn area verwyder en dan met inheemse bome soos melkhoutbome en wilde olywe “herbebos". Dit herstel die inheemse blaredak, die biodiversiteit wat dit ondersteun en, op sy beurt, die uiters belangrike ekostelseldienste wat hierdie woudstelsel bied.

Die FGGW se Groen Komitee borg Greenpop om bome te plant as teenvoeter vir die Fakulteit se koolstofvrystellings weens lugreise. Daarbenewens word bome ook jaarlks op die US se Tygerberg-kampus geplant. “Ons het ook by die Global Green and Health Hospital Network (GGHN) aangesluit, wat beteken die FGGW het homsef nou verbind tot volhoubare praktyke op die gebied van leierskap, energie, afval, water, kos, geboue, reis, chemikalieë, biodversiteit en verkryging," sê Mash.​

Om meer oor die FGGW se Groen Komitee uit te vind, kontak Christine Groenewald (clgroenewald@sun.ac.za). 

Onderskrif: FGGW-studente het gehelp om ongeveer 5 000 bome te plant tydens 'n Greenpop-fees by Platbos-woud.