Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Universiteit Stellenbosch Toekennings vir Uitnemende Onderrig 2018
Outeur: Karin Cattell-Holden
Gepubliseer: 23/04/2018

Universiteit Stellenbosch Toekennings vir Uitnemende Onderrig

Die jaarlikse Universiteit Stellenbosch Toekennings vir Uitnemende Onderrig sal gedurende die tweede semester van 2018 plaasvind.

Die toekennings is in 2017 ingestel om uitnemende onderrig op institusionele vlak te erken en bied 'n geleentheid om reflektiewe en konteksbewuste onderrig te waardeer. Die doelwitte van die toekennings is:

  • om op institusionele vlak steun toe te sê aan uitnemende onderrig en leer in die hoër onderwys;
  • om 'n akademiese korps te skep wat in hulle vakrigtings asook oor die instelling heen inspirasie en leiding in onderrig en leer kan bied;
  • om gesprekvoering oor en openbare bewustheid van die betekenis van uitnemende onderrig vir die wêreld in teenstelling met in die wêreld aan te moedig;
  • om die akademieskap van onderrig en leer te bevorder;
  • om die groei van professionele dosente te stimuleer; en
  • om agting van die waarde van lesse wat geleer is in teenstelling met die waardering van slegs suksesse aan te moedig. 

Die toekennings word in twee kategorieë aangebied, naamlik die toekenning vir Ontluikende Dosent en die toekenning vir Uitgelese Dosent. Alle personeellede kom vir hierdie toekennings in aanmerking.

Vir ʼn toekenning as Ontluikende Dosent moet ʼn personeellid minder as tien jaar, maar minstens drie jaar, by die akademieskap van onderrig en leer betrokke wees. Die minimum tydsduur van drie jaar kan bereken word vanaf ʼn tydstip – bepaal deur die individu – toe die persoon gekies het om hul akademieskap van onderrig en leer proaktief te begin ontwikkel. ʼn Toekenning as Ontluikende Dosent kan slegs eenmalig ontvang word.

Personeellede wat reeds tien jaar of langer by die akademieskap van onderrig en leer betrokke is, kan vir 'n toekenning as Uitgelese Dosent aansoek doen. Die tydsduur kan bereken word vanaf ʼn tydstip – bepaal deur die individu – toe die persoon gekies het om hul akademieskap van onderrig en leer proaktief te begin ontwikkel. ʼn Personeellid kan een keer in ʼn siklus van vyf jaar 'n toekenning as Uitgelese Dosent ontvang.

Daar word van elke fakulteit se gekose kandidaat/kandidate vereis om 'n onderrigportefeulje met inagneming van die kriteria in die riglyndokument (klik op die skakel onder) voor te berei. Die portefeuljes moet teen Vrydag 31 Augustus 2018 by die Sentrum vir Onderrig en Leer (SOL) by kcattell@sun.ac.za ingedien word. 'n Keurkomitee sal die portefeuljes beoordeel. Die suksesvolle kandidate sal in die vierde kwartaal van hul keuring in kennis gestel word en by ʼn plegtigheid aan die einde van daardie kwartaal hul toekennings ontvang. Die toekennings vir 2018 beloop R25 000 elk.

Vir verdere navrae, kom gerus in aanraking met dr. Karin Cattell-Holden van SOL (X 3074, kcattell@sun.ac.za).

http://www.sun.ac.za/afrikaans/learning-teaching/ctl/t-l-resources/teaching-portfolios/su-institutional-excellence-in-teaching-and-learning