Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US kortkursus oor die Akademieskap van Opvoedkundige Leierskap (“SoEL")
Outeur: Nicoline Herman
Gepubliseer: 23/04/2018

US kortkursus oor die Akademieskap van Opvoedkundige Leierskap (“SoEL")

Hierdie 12-krediet kortkursus fokus op leierskap in en die Akademieskap van Onderrig en Leer. Die kursus steun op twee vakkundige rigtings, naamlik Akademiese Leierskap (AL) en die Akademieskap van Onderrig en Leer (“SoTL"), en beoog om konseptuele raamwerke van hierdie twee rigtings in gesprek met mekaar te bring.

Die kursusinhoud word verdeel in vier breë temas: Kontekstualisering van Leierskap (Kwartaal 1), Navorsing van Leierskap (Kwartaal 2), Kurrikulumleierskap (Kwartaal 3) en Pedagogiese Leierskap (Kwartaal 4). Die uitkomste van die kortkursus is:

• Om akademiese leiers (bv. Vise-dekane Onderrig en Leer (O&L), programleiers, departementele voorsitters en die hoofde van O&L-verwante eenhede) aktief te betrek by vakkundige benaderings tot opvoedkundige leierskappraktyke;

• Om akademiese leiers aan die literatuur oor die Akademieskap van Opvoedkundige Leierskap (“SoEL") en die implikasies vir hul eie opvoedkundige leierskapkonteks bekend te stel;

• Om “SoEL" navorsingsvaardighede op deelnemers se eie opvoedkundige leierskapkonteks (soos die ondersoek van literatuur, definiëring van “SoEL" navorsingsprobleme, ontwerp van navorsingsmetodes en die verspreiding van resultate deur 'n vakkundige uitset) toe te pas;

• Om kritiese reflektiewe praktyk in die vorm van 'n onderrigportefeulje te demonstreer.

Daar word voorsien dat die kortkursus 'n kritiese massa van O&L-mentors by die Universiteit Stellenbosch sal bou. Elke jaar sal 'n gekose groep personeellede, wat 'n leierskaprol op die gebied van O&L speel, genooi word om vir die kortkursus in te skryf. Elk van hierdie kohorte, met voltooiing van die kortkursus, sal op hul beurt deel word van 'n groeiende gemeenskap van O&L-mentors by die universiteit.

Elf deelnemers is vir die 2018 kortkursus ingeskryf. Die eerste twee kontaksessies het op 2 Februarie en 6 April plaasgevind.