Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Individue vereer vir bydraes tot internasionalisasie
Outeur: Amanda Tongha & Ronel Beukes
Gepubliseer: 17/04/2018

​Sowat 400 gaste het op Vrydag, 13 April in die Endlersaal op die Stellenboschkampus byeengekom om 'n kwarteeu van formele internasionale aktiwiteite aan die Universiteit Stellenbosch (US) te vier.

By die geleentheid het US Internasionaal 25 individue, insluitend ses akademici van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, vir hulle bydraes tot die werk van die internasionale kantore op die Stellenbosch-, Tygerberg- en Bellvillepark-kampusse  vereer.

Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier, het erkenning verleen aan personeel, studente en vennootinstellings se bydraes tot en ondersteuning van internasionalisasie aan die US. Hy het ook die sterk verband tussen die Universiteit se eeufees en die kwarteeuvieringe van internasionalisasie aan die US verduidelik. “Wat ons vandag as 'n universiteit is, is in 'n groot mate danksy internasionalisasie. Ons maak staat op internasionalisasie om ons die toekoms in te dra noudat ons die US se tweede bestaanseeu betree."

Internasionale aktiwiteite aan die US kan teruggevoer word tot 1993, toe die Kantoor vir Internasionale Betrekkinge gevestig is. Dít was dan ook die begin van gekoördineerde werk om internasionale skakeling te ontwikkel en uit te brei en internasionale akademiese netwerke en mobiliteit stelselmatig te bevorder. Internasionale aktiwiteite het 'n aanvang geneem met formele institusionele ooreenkomste met die Eberhard Karls Universität Tübingen (Duitsland), die Universiteit van Leiden (Nederland) en die Katholieke Universiteit Leuven (België).

Die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe is trots op die erkenning wat die volgende ses personeellede van die Universiteit ontvang het vir hul bydraes tot US Internasionaal en USB se Kantoor vir Internasionale Verhoudinge:

Prof Ronel du Preez, visedekaan: leer en onderrig, vir haar rol in die skakeling met Zhejiang Normaal Universiteit en haar aktiewe betrokkenheid in die totstandkoming van die BCom-graadprogram in Internasionale Besigheid. Haar werk het 'n invloed gehad op US Internasionaal se benadering in hul strewe om kurrikulum-internasionalisering teweeg te bring.

Prof Andrie Schoombee, professor en departementele voorsitter van ekonomie, vir sy rol ter bevordering van inkomende en uitgaande internasionale studentemobilitiet in die Departement Ekonomie. Hy het 'n toonaangewende rol gespeel in die totstandkoming van die dubbele meestersgraad met die Universiteit van Göttingen, asook die ontwikkeling van 'n betekenisvolle internasionale beskouing in die Departement Ekonomie.

Prof Johan Fourie, professor in ekonomie, vir die ontwikkeling van kursusse in ontwikkelingsekonomie vir internasionale studente in die Global Education Programmes (GEP) en die Winterskool, en vir sy rol as akademiese programleier van die jaarlikse dinkskrumprojek van US en die Katholieke Universiteit Leuven.

Prof Christo Boshoff, professor en departementele voorsitter van ondernemingsbestuur, vir sy ondersteuning van die Global Education Programmes (GEP), waardeur 'n voortdurende programaanbod vir inkomende internasionale semesterstudente moontlik is.

Dr Chris Pentz, senior dosent in bemarkingsbestuur, vir sy voortgesette, langdurige toewyding sedert die beginjare van die Internasionale Kantoor, sy bydrae tot programontwikkeling in die Global Education Programmes (GEP) en die Winterskool, asook die skep van mobiliteitsopsies vir uitgaande studente.

Prof Eon Smit, voormalige direkteur van die Universiteit van Stellenbosch Bestuurskool, vir sy rol om die Bestuurskool internasionaal te posisioneer en sy invloedryke bydrae tot EFMD-, AACSB- en AMBA-akkreditasie vir die Bestuurskool.

  • Op die foto by professors Hester Klopper, viserektor: strategie en internasionalisasie, en Wim de Villiers, rektor en visekanselier, is prof Prof Ronel du Preez en dr Chris Pentz.