Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Maties Parasport gaan van krag tot krag
Outeur: Maties Sport Media
Gepubliseer: 14/04/2018

Twee van die Maties ParaSport-klub se staatmakers, Dyan Buis en Charl du Toit, het in April tot Suid-Afrika se medaljetelling by die Statebondspele in Australië bygedra deur onderskeidelik silwer en brons te wen in die 100m-item in die T38-klas.

Charl, wat as 'n reël in die T37-klas deelneem, het ook die wêreldrekord in hierdie klas verbeter.

Reinhardt Hamman (T38) het 'n bronsmedalje in die gewigstootitem behaal, terwyl die Matieswemmer Christian Sadie 'n silwermedalje in die 50m-vryslag (S7) verower en 'n persoonlike beste tyd behaal het.

Maties ParaSport-klublede het ook op plaaslike bodem goeie prestasies gelewer by die pas afgelope nasionale kampioenskap vir persone met gestremdhede wat vanjaar in Bloemfontein aangebied is.

Volgens die klub se bestuurder, Wentzel Barnard, was een van die hoogtepunte die honneurstudent Kerwin Noemdo se Afrika-rekord in die gewigstoot (F47) met 'n afstand van 13,44m.

Op die baan het Anruné Weyers (T47) skoonskip gemaak en goud gewen in die 100m, 200m én die 400m. Die siggestremde meesterstudent Anika Pretorius (T13) het na 'n frustrende tydperk van beserings 'n persoonlike beste tyd in die 100m behaal.

Paul Daniels (T62), 'n dubbelbeenamputasie-atleet en leerder van Hoërskool Cloetesville, het goud in die 100m en 200m verower, terwyl die serebraal gestremde atlete Carli Pretorius en Bilaal Dramat in velditems presteer het. Carli het goue medaljes in die gewigstoot en diskus gewen en Bilaal het drie SA rekords in sy velditems aangeteken.

Die o.20-fietsryer Matthew Brooks, ook serebraal gestremd, het 'n SA rekord in die 800m aangeteken en persoonlike beste tye behaal in die 1500m, die tydtoets oor 6km en die padwedren oor 13km.

Brandon Beack,'n rolstoetatleet, is een van min atlete wat in veld- én baanitems presteer. Hy het goud verower in die diskus en gewigstoot vir klas F53-gooiers en ook die 100m (T52) gewen. 'n Verdere eer het Brandon te beurt geval toe hy genooi is om by die Britse Para-Olimpiese rolstoelatleet David Weir se Weir Archer Akademie te oefen.

Marius Coetzee, 'n Teologie-student in sy eerste jaar en 'n lid van die Wes-Kaap se doelbalspan – 'n sport vir siggestremdes – is as die speler van die doelbalkompetisie aangewys. Die span het ook vir die eerste keer in 26 jaar die kompetisie gewen deur die Vrystaat met 20-12 te klop.