Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Woordfeesproduksies neem die voortou in die benoemings vir Kanna-pryse
Outeur: Corporate Communications Division
Gepubliseer: 12/04/2018

​​Twee Universiteit Stellenbosch (US) Woordfeesproduksies, dit wil sê toneelstukke wat met finansiële steun en in samewerking met die US Woordfees ontwikkel is, loop voor in vanjaar se Kanna-benoemings. Die Kannas word jaarliks toegeken vir uitstaande werk wat by dié betrokke jaar se Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) gelewer is.

Die plekspesifieke toneelstuk Ons is almal freaks hier, 'n ko-produksie van die Woordfees en Kunste Onbeperk, het met die pas afgelope KKNK op Oudtshoorn die voortou geneem met ses benoemings vir Kanna-pryse. Ons is almal freaks hier, geskryf deur die Hertzogprys-wenner Ingrid Winterbach oor die lewe van Saartjie Baartman, is benoem vir beste teateraanbieding, beste regie (Nicole Holm), beste manlike byspeler (Albert Pretorius), beste aktrise (Lee-Ann van Rooi), beste vroulike byspeler (Kay Smith) en beste teaterontwerp (Nicole Holm en Birrie le Roux).

​​Nog 'n US Woordfeesproduksie, die eenvrouvertoning Hierdie lewe, 'n verwerking deur Saartjie Botha van Karel Schoeman se gelyknamige roman, is benoem in vier kategorieë – vir beste teateraanbieding, beste regie (Wolf Britz), beste aktrise (Antoinette Kellermann) en beste teaterontwerp (Wolf Britz).

'n Ouer US Woordfeesproduksie het ook erkenning gekry. Nêrens, Noord-Kaap is benoem vir beste teateraanbieding, beste regie (Nico Scheepers) en beste akteur (Geon Nel en De Klerk Oelofse).

Afrika my verlange / Afrique mon désir, wat toonsettings van gedigte in Frans, Afrikaans en ander Afrika-tale deur Laurinda Hofmeyr met animasiekuns deur Diek Grobler kombineer, is in die kategorie vir beste musiekaanbieding genomineer. Vir sy animasies is Grobler benoem vir die beste bydrae tot visuele kuns op die fees. Dié produksie, onder regie van David Kramer, is deur die US Woordfees ontwikkel in samewerking met die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief (NATi) en Kunste Onbeperk.

Onder die jongelinge het studente verbonde aan die US se drama-departement uitgeblink. In die kategorie vir beste opkomende kunstenaar is die honneurs-student Du Toit Albertze benoem, asook die ensemble van Die Nuwe Republiek van die Nuwe Nuwe Suid-Afrika, wat almal US-studente is. Albertze se Die meermin-kompleks het 'n nominasie vir beste teks ontvang, wat hom met gevestigde dramaturge om die prys laat meeding.

Klik hier (http://www.litnet.co.za/kknk-2018-plekspesifieke-produksie-neem-voortou-met-ses-kanna-benoemings/) vir die volledige lys benoemdes.

Die Kannas word op 14 Mei in die Kaap oorhandig.

Foto: Tonele uit die toneelstuk Ons is almal freaks hier. Links is Lee-Ann van Rooi en regs is Albert Pretorius en Kay Smith. Fotograaf:  Retha Ferguson.