Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ledemaat-rekonstruksie is dié ortopeet se passie
Outeur: Jackie Pienaar-Brink
Gepubliseer: 12/04/2018

​Prof Nando Ferreira se passie vir ledemaat-rekonstruksie kom in alle fasette van sy werk tot uiting.

Ferreira (40) is sedert verlede jaar aan die Afdeling Ortopediese Chirurgie van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe van die Universiteit Stellenbosch verbonde. As Hoof van die nuut gestigte Kliniese Eenheid: Tumor, Sepsis en Rekonstruksie (TSR) beoog hy heelwat opwindende projekte, soos die jaar lange opleidingsprogram wat hy reeds tot stand gebring het vir gekwalifiseerde ortopede wat verdere ondervinding in ledemaat-rekonstruksie wil opdoen.

Sy navorsingsbelangstelling is dan uiteraard ook ledemaat-rekonstruksie en meer spesifiek die behandeling van muskuloskeletale infeksies, deformiteitskorreksie en posttraumatiese ledemaat-rekonstruksie, onder meer waar die nie-hegting van frakture en beenverlies ter sprake is.

“Dit is ʼn relatief nuwe navorsingveld in ortopedie en nuwe tegnieke word deurlopend gevestig," vertel hy. “Suid-Afrika het ook baie spesifieke uitdagings in terme van patologie en infrastruktuur, wat dikwels beteken dat probleme anders as in ontwikkelde lande aangepak word. Dit lei tot unieke benaderings tot komplekse probleme waarvan ontwikkelde lande dalk baie min sien."

Ferreira is tans president van die Suid-Afrikaanse Ledemaatverlengings- en Rekonstruksievereniging, waarvan hy in 2013 ʼn stigterslid was. Hy is in Augustus vanjaar tot medeprofessor bevorder en is nasionaal sowel as internasionaal ʼn gewilde spreker.

Ferreira het in KwaZulu-Natal grootgeword en is buiten Afrikaans en Engels ook Zoeloe magtig. Op skool – eers in Pietermaritzburg en later in Durban – het hy nie net op akademiese gebied uitgeblink nie, maar ook kleure in swem, rugby en atletiek verwerf.

Ná matriek het hy ʼn B.Sc.-graad met mensfisiologie en genetika as hoofvakke aan die US verwerf, waarna hy – ook aan die US – medies studeer het. Volgens hom was dit ʼn maklike keuse om na KwaZulu-Natal terug te keer vir sy internskap en gemeenskapsdiensjaar.

Ortopedie het uit die staanspoor sy belangstelling geprikkel en in 2006 het hy met sy formele ortopedie-opleiding aan die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN) begin.

Toe ledemaat-rekonstruksie oor sy opleidingspad kom, het hy onmiddellik besef dit is wat hy wil doen. Nadat hy alle beskikbare kursusse op hierdie gebied in Suid-Afrika voltooi het, is hy in 2011 Rusland toe vir verdere opleiding in spesifieke tegnieke. ʼn Konsultantpos aan UKZN het gevolg waar hy – in sy eie woorde – die voorreg gehad het om onder die bekwame leiding van dr Len Marais, Hoof van die Departement Ortopedie, baie oor muskuloskeletale infeksiebehandeling te leer.

Sy liefde vir navorsing het tot talle publikasies oor ledemaat-rekonstruksie gelei, asook die ontwikkeling van spesifieke benaderings ten opsigte van probleme wat oor hul pad gekom het. Ferreira en Marais was byvoorbeeld die eerste chirurge wat beentransport deur ʼn geïnduseerde membraan beskryf het.

In 2015 het hy sy doktorsgraad verwerf met sy proefskriftitel “The Outcome of Tibial Non-Union Treatment Using a Revised Definition, Classification System and Management Strategy". In Maart die volgende jaar het hy die Grey-hospitaal in Pietermaritzburg, waar hy as mediese spesialis gewerk het, verlaat en hom by die US aangesluit.

Ferreira is getroud met Yvette, ʼn radiografis, en hulle het drie kinders.

Sy hoofbelangstelling buite werksverband is “enigiets met twee wiele". Hy is die trotse eienaar van ʼn 2010-Harley Davidson en ʼn 1984-Vespa, en tans ook besig om ʼn 1942-Harley Davidson WLC uit die Tweede Wêreldoorlog te restoureer. Voordat hy Pietermaritzburg vir die Kaap verruil het, het hy begin bergfiets ry en Ferreira ag homself gelukkig dat hy na ʼn plek met soveel goeie bergfietsroetes kon verhuis.