Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US Teoloog wenner van Andrew Murray-Desmond Tutu prys
Outeur: Helette van der Westhuizen
Gepubliseer: 10/04/2018

Die Andrew Murray-prysfonds het die wenners van vanjaar se pryse vir Christelike en teologiese boeke aangekondig.

Die Andrew Murray-Desmond Tutu-prys vir Christelike en vakwetenskaplike teologiese publikasies, is toegeken aan prof Louis Jonker van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch (US) vir sy boek, Defining All-Israel in Chronicles, uitgegee deur die Duitse publikasiehuis Mohr Siebeck. Die beoordelaars beskryf die publikasie as “'n werk van puik akademiese navorsing van die hoogste kwaliteit".

In hierdie boek ontwikkel Jonker 'n nuwe interpretasiemodel waarmee Kronieke geïnterpreteer kan word. Kronieke verteenwoordig 'n herinterpretasie van ouer geskiedenis-tradisies van Ou Israel (soos vervat in die boeke Samuel en Konings). Hierdie herinterpretasie vind plaas in 'n veranderde sosio-historiese konteks, naamlik tydens die laaste jaar van die Persiese Ryk. Jonker se boek dui aan dat die identiteitsoeke in hierdie tyd beide in kontinuïteit met die tradisies van die verlede plaasvind, maar ook nie huiwer om nuut te dink en te glo in 'n nuwe tydsgewrig nie. Die boek wys verder hoe hierdie identiteitsonderhandelingsproses op ten minste vier vlakke uitspeel, naamlik in die wyer “empire", in interaksie met omringende provinsies, in die tussengesprek tussen die stamgebiede van Juda en Benjamin, en in die konflikgroepe van die tempelkultus in Jerusalem.

Die prys, wat op 25 Mei 2018 oorhandig word, bestaan uit 'n kontantbedrag en 'n oorkonde.

Die ander pryswenners is:

Die Andrew Murrayprys vir 'n algemeen-Christelike publikasie: André Pretorius vir sy boek, Geloof alleen uitgegee deur Naledi;

Die Desmond Tutu-Gerrit Brandprys vir 'n debuutwerk in 'n amptelike taal van Suid-Afrika: Pierre du Plessis vir sy boek, Jesus ruik na mirre en stof uitgegee deur Lux Verbi.

Twee spesiale toekennings word ook gemaak: die Andrew Murray-FAK toekenning vir Christelike Musiek aan Pieter H. van der Westhuizen, en 'n spesiale Andrew Murray toekenning aan Timo Crouse.