Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US navorsers ontwikkel bloedtoets wat TB-infeksie voorspel
Outeur: Wilma Stassen
Gepubliseer: 06/04/2018

Navorsers aan die Universiteit Stellenbosch (US) is deel van 'n internasionale konsortium wat ʼn eenvoudige bloedtoets ontwikkel het wat TB-infeksie soveel as twee jaar vooruit kan voorspel in mense met ʼn hoë risiko om TB te ontwikkel.

“Mense wat in nabye kontak is met TB-pasiënte loop die risiko om ook dié siekte te ontwikkel, maar dit is onmoontlik om voorkomende behandeling te gee aan almal wat met die pasiënt in aanraking kom. Ons navorsingsgroep het ʼn bloedtoets ontwikkel wat kan voorspel watter kontakte meer geneig is om aktiewe TB-infeksie te ontwikkel. Dus kan hierdie individue uitgesonder word vir voorkomende behandeling," verduidelik prof Gerhard Walzl, die hoofnavorser van die studie en hoof van die Immunologie Navorsingsgroep by die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe.

Die navorsing het in die American Journal of Respiratory and Critical Care Medicine, ʼn joernaal van die Amerikaanse Torakale-vereniging verskyn.

Daar is tans geen bloedtoetse beskikbaar wat die ontwikkeling van TB-infeksie kan voorspel sonder om ʼn groot aantal mense met ʼn lae-risiko vir TB onnodig voorkomende behandeling te laat ondergaan nie. “Voorkomende behandeling neem verskeie weke en het moontlike newe-effekte. Jy wil die aantal mense wat dié behandeling ondergaan beperk tot diegene wat die hoogste risiko loop om aktiewe TB te ontwikkel," sê Walzl.

Die toets meet die uitdrukkingsvlakke van vier gene wat met inflammatoriese respons verband hou. Hierdie vier-geen 'handtekening', wat 'RISK4' genoem word, hou verband met bevolkingsgroepe in Suid-Afrika, die Gambië en Etiopië.

“Hierdie studie was die eerste stap, nou moet die impak van hierdie toets op die voorkoming van TB getoets word in multisentrum kliniese proewe," sê Walzl. “Die geldigheid van hierdie toets moet ook in bevolkingsgroepe met ʼn hoë risiko vir TB in Asië, Suid-Amerika en prioriteitsgebiede bepaal word."

Die internasionale navorsings-konsortium sluit navorsers in van die Universiteit Stellenbosch (Suid-Afrika), die Max Planck-instituut vir Infeksie-biologie (Duitsland), die Suid-Afrikaanse TB-vaksien Inisiatief (SATVI) by die Universiteit van Kaapstad (Suid-Afrika), die Mediese Navorsingsraad in die Gambië, die Londen Skool vir Gesondheidsleer en Tropiese Geneeskunde (VK), Case Reserve Western Universiteit (Nederland), die Armauer Hansen Navorsingsinstituut (Etiopië), Makerere Universiteit (Uganda), die Etiopiese Nasionale Navorsingsinstituut (Etiopië), die Karonga Voorkomingstudie (Malawi), Statens Serum Instituut (Denemarke), AERAS Globale TB Vaksienstigting (Verenigde State), Stanford Universiteit (Verenigde State) en Sanquin Navorsing (Nederland).

Onderskrif: Prof Gerhard Walzl