Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Couper heraangestel op WGO Riglynhersieningskomitee
Outeur: Liezel Engelbrecht
Gepubliseer: 04/04/2018

​Suid-Afrika en die Universiteit Stellenbosch (US) gaan vir 'n tweede termyn agtereenvolgens op die invloedryke Riglynhersieningskomitee (GRC) van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) verteenwoordig word. 

Ian Couper, Direkteur van die Ukwanda-sentrum vir Landelike Gesondheid en professor in Landelike Gesondheid aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe se Sentrum vir Gesondheidsberoepe Onderwys, het onlangs bevestiging ontvang van die GRC se uitnodiging om vir nog 'n termyn te dien, wat einde 2019 sal verstryk.

Die komitee bestaan hoofsaaklik uit WGO-personeellede en hy is een van net vier eksterne lede. “Myns insiens lê die belang van die aanstelling in die spesifieke rol en perspektief wat ek aan die komitee bied. Die meeste van die ander lede is epidemioloë, spesialiste in openbare gesondheid, asook kundiges in bewysgebaseerde gesondheidsorg en biostatistiek," verduidelik Couper.

“Ek was jare lank by navorsing betrokke, maar ek bied 'n buite-perspektief omdat ek die afgelope 25 jaar by landelike gesondheid betrokke was – 'n meer praktiese en grondvlak-perspektief, wat my in staat stel om my siening oor hoe riglyne in werking gestel kan word en die praktyk kan beïnvloed, met hulle te deel."

Couper is die enigste Suid-Afrikaner wat in die raad dien. Sy oorspronklike aanstelling in 2013 het gekom nadat hy betrokke was by die eerste twee stelle riglyne wat voor die raad gedien het wat nié met siektes verband hou nie. “Ek was betrokke by 'n paneel kundiges wat globale beleidsaanbevelings vir die WGO ontwikkel het oor groter toegang vir gesondheidswerkers tot afgeleë en landelike gebiede deur verhoogde retensie. Ek was ook betrokke by die samestelling van 'n stel riglyne oor die transformasie en uitbreiding van gesondheidsberoepe-onderwys. Omdat dit soveel van ander riglyne verskil het, was selfs meer werk nodig om dit deur die GRC aanvaar te kry."

Kort hierna is hy vir 'n posisie in die GRC genomineer, waardeur sy perspektief erken is as iemand wat nie net by frontlinie-gesondheidsorg betrokke is nie, maar ook by gesondheidstelselontwikkeling en die bestuur van kliniese praktyk.

Volgens Couper is die GRC op talle vlakke relevant en van belang. “Die GRC is in 2007 deur die direkteur-generaal van die WGO tot stand gebring om seker te maak alle riglyne is bewysgebaseerd en nie bloot die opinie van 'n groep kundiges nie. Gevolglik moet alle WGO-dokumentasie wat riglyne of aanbevelings bevat vir gebruik deur regerings en gesondheidsdienste regoor die wêreld, deur die komitee gaan. Die GRC se besluite moet ook deursigtig en bewysgebaseerd wees. Elke riglyn word gedurende twee ontwikkelingsfases hersien: tydens die beplannings- en dan weer tydens die finale fase."

Couper sê dis belangrik dat die WGO 'n balans handhaaf tussen riglyne wat tegnies korrek én vir almal toeganklik is. “Die hele hersieningsproses en hoe bewyse gebruik en dan toegepas word, is baie tegnies. Tóg is baie mense wat die riglyne lees en gebruik nie tegnies nie."

Nog 'n uitdaging waarmee hy meen hy kan help, is die wyse waarop die riglyne aangebied word aan lande met baie hulpbronne, lande met beperkte hulpbronne en al die lande tussenin.

Couper vlieg nie na die WGO se hoofkantoor in Genève vir vergaderings nie, omdat die GRC maandeliks webgebaseerde vergaderings hou om seker te maak die bal bly aan die rol. “Ek het nie verwag om weer aangestel te word nie. Ek dink dis 'n geldigverklaring van my rol en die bydrae wat ek in staat was om te maak," sê hy.​