Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Trueman Goba ontvang eredoktorsgraad
Outeur: Liesel Koch
Gepubliseer: 22/03/2018

Trueman Goba, industrieleier, mentor van jong ingenieurs en leier op die gebied van transformasie in die ingenieursbedryf, het die graad Doktor in die Ingenieurswese (DIng), honoris causa, op 20 Maart 2018 van die Universiteit Stellenbosch ontvang. Hierdie eredoktorsgraad is aan hom toegeken vir sy voortreflike bydrae om nasionale sleutelinfrastruktuur te voorsien, sy kernrol in die ontwikkeling en transformasie van Suid-Afrikaanse siviele ingenieurswese, sy diens as 'n denkleier wat nasionale nywerheid bevorder, en sy belegging in die samelewing deur jong aspirant-ingenieurs die pad na sukses te wys.

Trueman Thandabantu Goba het naam gemaak as 'n leier in die Suid-Afrikaanse siviele-ingenieursbedryf - nie net as uitmuntende ingenieur nie, maar ook deur as mentor en rolmodel die vakgebied vir minderbevoorregtes te ontsluit.

Hierdie boorling van Durban beskik oor die graad MIng (Siviele lngenieurswese) van Cornell-universiteit, Verenigde State, en is besonder vaardig op verskeie terreine, waaronder vervoer, vloeimeganika, geotegniese en strukturele ingenieurswese. Gevolglik het hy al tot menige bekroonde projek bygedra, soos die Nelson Mandela-brug (Johannesburg), die N4 Platinum-tolpad (Noordwes), die Bergrivierdam (Franschhoek), die Durbanse hawetonnel, die Tsitsarivierbrug (Oos-Kaap), en verskeie FIFA-Wereldbekerstadions in 2010.

Daarbenewens is Goba hooggeag as kampvegter vir aspirant-siviele ingenieurs uit benadeelde groepe. Grootliks danksy sy mentorskap spog die aansienlik getransformeerde Suid-Afrikaanse siviele­ingenieursbedryf deesdae met 'n aantal belowende, jong swart beroepslui, wat op hul beurt hul gemeenskappe deur noodsaaklike infrastruktuur ophef. Ter erkenning van sy bedryfsleierskap op 'n deurslaggewende tydstip van ons jong demokrasie is Goba in onderskeidelik 2002 en 2016 tot die eerste swart president van die Suid-Afrikaanse lnstituut van Siviele lngenieurs (SAISI) en die Suid­Afrikaanse Akademie van lngenieurswese (SAAE) verkies.

Hy is immer oorgehaal om die samelewing te dien, en voorsien gesoute leierskap gedurende sy ministeriële aansteillngs in die Ontwikkelingsraad vir die Konstruksiebedryf (CIDB) en die Suid-Afrikaanse Ingenieursraad (ECSA). As presidensiële aanstelling in die land se eerste Nasionale Beplanningskommissie, wys hy sy staal as 'n denkleier van formaat.

Onlangse eerbewyse wat sy verbintenis tot uitnemende en inklusiewe ingenieurswese erken, sluit in SAISI se goue medalje – hul hoogste eerbewys – en 'n toekenning vir lewenslange prestasie by die Suid-Afrikaanse Professioneledienste-prysgeleentheid.

Die Universiteit Stellenbosch salueer Trueman Goba as 'n ingenieur van nie net sleutelinfrastruktuur nie, maar van 'n ganse generasie impakryke beroepslui.

​Prof Wikus van Niekerk, dekaan van die Fakulteit Ingenieurswese by Universiteit Stellenbosch, sê: "Bo en behalwe al sy prestasies, is Trueman Goba waarlik 'n nederige persoon en dien as uitstekende rolmodel vir ons ingenieurstudente en die hele ingenieursprofessie."

Foto:

Trueman Goba en sy vrou, Viola, by die gradeplegtigheid op 2018.03.20 waar hy 'n eredoktorsgraad van Universiteit Stellenbosch ontvang het.