Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Jong fisioloog gekies vir Lindau Nobelpryswennersvergadering
Outeur: Media and Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 19/03/2018

Dr Balindiwe Sishi van die Universiteit Stellenbosch is een van 600 internasionale wetenskaplikes, jonger as 35 jaar,  wat gekies is om deel te neem aan hierdie jaar se Lindau Nobelpryswennersvergadering wat van 24 tot 29 Junie in Duitsland sal plaasvind.

Oor 'n periode van ses dae sal die deelnemers uit 84 lande, die geleentheid hê vir interaksie met 43 Nobelpryswenners in fisiologie en geneeskunde. Dit sluit die wenners van die 2017 Nobelprys vir Fisiologie en Geneeskunde in. Jeffrey C Hall, Michael Rosbash and Michael W Young is vereer vir hul ontdekking van molekulêre meganismes wat die sirkadiese ritme beheer.

Dr Sishi sê sy het aansoek gedoen nadat sy genomineer is deur Prof Kathy Myburgh, wat die Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel in geïntegreerde skeletspierfisiologie, -biologie, en -biotegnologie beklee. “Ek was nuuskierig. Ek was nie eers bewus van die bestaan van so 'n geleentheid nie!"

Sishi, 'n navorser in die Departement Fisiologiese Wetenskappe, se navorsing is daarop gemik om nuwe maniere te vind om die newe-effekte te verminder wat die bekende chemoterapiemiddel, Doxorubicin, op die hart het. Kardiotoksisiteit word tans beskou as een van die belangrikste nagevolge van chemoterapie, wat aanleiding gee tot verhoogde hartsiekte- en sterftesyfers van individue wat kanker oorleef.  

“Ons gebruik sellulêre modelle en rotte om die verloop van die siekte te simuleer ten einde uit te vind watter meganismes almal betrokke is. Op sellulêre vlak fokus ons om te verstaan watter rol organelle speel, soos die dinamiese veranderinge in die mitokondria, endoplasmiese retikulumstres en die intrasellulêre kommunikasie tussen organelle. Ons gebruik hierdie inligting om te kan bepaal watter invloed Doxorubicin-terapie op hierdie parameters sal hê."

“Om beter behandelingstrategieë te kan ontwikkel en sodoende die lewenskwaliteit van kankerpasiënte te verbeter, is dit belangrik om hierdie komplekse meganismes op sellulêre vlak te verstaan," sê sy.

Op die foto, Dr Balindiwe Sishi in haar laboratorium. Foto: Stefan Els