Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Alumni-egpaar ontvang beide gesogte Rhodes-beurse
Outeur: Liezel Engelbrecht
Gepubliseer: 15/03/2018

Drs Helene-Mari van der Westhuizen en Koot Kotze is geensins vreemdelinge vir die personeel en studentegemeenskap van die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) nie.

Ofskoon beide reeds in 2015 hul MB,ChB-grade met lof geslaag het, is hul nalatenskap steeds sigbaar. Kotze het onder meer die Meerenhof manssêr-groep help stig, terwyl Van der Westhuizen die US se Mediese Orkes op die been gebring het. Hulle was medestigters van die nie-regeringsorganisasie TB Proof en was nou by die Veilige Werskure-veldtog betrokke. Van der Westhuizen het in 2015 die Dekaanstoekenning vir Leierskap ontvang en Kotze die Kanseliersmedalje. Boonop is dié kragpaartjie getroud en vorm hulle 'n gedugte span as dit by navorsing kom, Hulle het al twee artikels saam geskryf, wat in internasionale joernale gepubliseer is.

Die kersie op die koek was toe dié alumni albei onlangs die goeie nuus gekry het dat hulle gesogte Rhodes-beurse ontvang het. Dié beurse stel hulle in staat om by die Universiteit van Oxford in Engeland verder te studeer. Volgens me Annette Gibson, wat die beurse vir Suider-Afrika (Suid-Afrika, Botswana, Lesotho, Malawi, Swaziland en Nambië) administreer, is dit die eerste keer in die geskiedenis van dié poel dat so iets gebeur. “Ons het al egpare gehad wat beide beurse ontvang het, maar nog nooit in dieselfde jaar nie," vertel sy. Boonop is vroue eers in 1976 toegelaat om vir Rhodes-beurse aansoek te doen.

“Ons het in Augustus verlede jaar vir die beurse aansoek gedoen. Ek was in Rhenish Girls' High en kwalifiseer dus vir die Paul Roos Rhodes-beurs. Koot het in die nasionale poel aansoek gedoen," vertel Van der Westhuizen. Sy het reeds middel Augustus gehoor sy was suksesvol, terwyl Kotze tot Desember moes wag.

“Tydens die onderhoude in die finale ronde het die aansoekers almal in 'n binnehof byeengekom, waar die suksesvolle kandidate se name uitgelees is. Ek was eers nie seker of ek reg gehoor het toe die voorsitter my naam lees nie, en moes hard teen die trane baklei toe 'n vriend dit bevestig," onthou Kotze. Vir Van der Westhuizen was dié nuus asof hulle die Lotto gewen het. “Nie net het ons nou die geleentheid om by die beste universiteit ter wêreld (volgens die jongste Times Higher Education World University Rankings) nagraads te studeer nie, maar om dié geleentheid met my man te kan deel, is vreeslik spesiaal."

Hulle het wel 'n plan B gehad in geval net een van hulle gekeur sou word. “Die ander een sou alternatiewe finansiering vir nagraadse studies ondersoek, of by die Verenigde Koninkryk se Nasionale Gesondheidsdiens vir werk aansoek doen. Realisties gesproke het ek gedink ek sal die een wees wat net sal saamgaan, 'n hond aanneem en dalk 'n boek probeer skryf," vertel Kotze.

Albei se visier is nou op kursusse wat hulle sal help om ʼn positiewe bydrae in die Suid-Afrikaanse gesondheidskonteks te lewer. Die beurs beteken nie outomatiese keuring vir die studieprogramme nie en beide het reeds vir meer as een program aansoek gedoen.

“Na afloop van my studies sal ek graag 'n verskil wil maak in die voorkoming van siektes en sterftes in ontwikkelende lande, en spesifiek ook in Suid-Afrika – hetsy deur middel van navorsing, bywysgebaseerde gesondheidsorg of 'n kombinasie van die twee. Dit sal afhang van waarheen ons studies ons oor die volgende paar jaar lei," sê Kotze.

Van der Westhuizen beskou die Rhodes-beurs ook as 'n geleentheid om van die wêreld 'n regverdiger en gesonder plek te maak. “Die beurs is grotendeels geskep deur Cecil Rhodes se welvaart wat hy ten koste van baie Suid-Afrikaners bekom het. Ek dink die beurs skep 'n geleentheid om die onreg wat Suid-Afrikaners steeds daagliks ervaar, reg te stel deur jongmense wat hulself tot Suid-Afrika se toekoms verbind, te help om dít te vermag." Oor tien jaar sien sy haarself met Kotze aan haar sy, aan die werk in 'n Suid-Afrikaanse omgewing wat stimulerend én betekenisvol is.

Hulle moedig ander studente aan om ook vir Rhodes- en soortgelyke beurse aansoek te doen. “As jy dink jy het 'n kans, doen aansoek. As jy dink jy het nié 'n kans nie, doen steeds aansoek! Wat ook al die uitkoms is, sal jy vir seker baie leer," is Van der Westhuizen se raad. Kotze stem saam: “Jy kan net vir 'n beurs oorweeg word as jy daarvoor aansoek doen. Die proses is op sigself 'n uitstekende leerervaring. Nadenke oor jou toekomsplanne en oor hoe jy wil hê jou vorige professionele en persoonlike ervarings moet jou loopbaan beïnvloed, is baie waardevol."

Die paartjie, wat tans hul gemeenskapsjaar saam by die Zithulele-hospitaal naby Mqanduli in die Oos-Kaap doen, sal in Oktober by Oxford aanmeld.

  • Lees meer oor die Times Higher Education World University Rankings by www.timeshighereducation.com​