Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe benadering tot navorsing in biomediese ingenieurswese
Outeur: Liesel Koch
Gepubliseer: 15/03/2018

Nuwe benadering tot navorsing in biomediese ingenieurswese op konferensie bekendgestel

-                   Wêreldkenners kom in Stellenbosch byeen

-                   Fokus op gehalte en bekostigbare gesondheidsorg

-                   Wêreldbekende deskundige oor evaluering van intellektuele eiendom spreker by konferensie

-                   Verlies aan biomediese ingenieurstudente aan oorsese maatskappye teëgewerk

Kundiges van regoor die wêreld gaan die groot potensiaal vir innovasie en menslike kapasiteitsbou op die snelgroeiende gebied van biomediese ingenieurswese bespreek by die derde Suid-Afrikaanse Biomediese Ingenieurswese (SABEC2018) konferensie wat van 4 tot 6 April 2018 by die Spierwynlandgoed buite Stellenbosch gehou gaan word.

ʼn Nuwe benadering, waar teorie en navorsing saamgesnoer gaan word met ontwikkeling, industrialisering en kommersialisering van biomediese innovasie, sal ten toon gestel word by SABEC 2018 wat deur die Universiteit Stellenbosch (US) se Instituut vir Biomediese Ingenieurswese (IBE) aangebied word.

Biomediese ingenieurswese is ʼn progressiewe en opwindende veld wat daarop gemik is om gesondheidsverwante probleme te verbeter of op te los deur multidissiplinêre velde soos fisika, wiskunde, wetenskappe en ingenieurswese waar dit met biologie, medisyne en gesondheidswetenskappe kruis.

“Hierdie jaar sal die IBE ʼn konferensie met ʼn verskil aanbied," sê prof Martin Nieuwoudt, IBE-direkteur. “Ons wil ʼn biomediese ekosisteem voorhou wat ontwikkel is om in die behoefte aan gehalte en bekostigbare gesondheidsorg te voorsien, deur navorsing, ontwikkeling, industrialisering en kommersialisering van biomediese idees te ondersteun. Dit is nie ʼn geslote ekosisteem nie, maar steun op die industrie en vennote om dit suksesvol te maak."

Ewe opgewonde oor dié benadering is mnr Dayle Wheeler, direkteur van innovation4life – industrievennoot tot die konferensie. Hy sê: “Biomediese Ingenieurswese is die antwoord op bekostigbare gesondheidsorgoplossings vir Afrika. Die feit dat ons duur oplossings invoer, terwyl ons ons biomediese ingenieurstudente aan oorsese maatskappye afstaan, beklemtoon die behoefte om ʼn  biomediese industrie in Suid-Afrika te skep om die studente in diens te neem."

“Die konferensie sal dus meer behels as nét die lewering van goeie navorsingsvoordragte," voeg prof Pieter Fourie, ingenieur, pediater en hoof van die Biomediese Ingenieurswese Navorsingsgroep (BERG), by. “Daar sal ʼn sterk fokus op industriedeelname wees. Ons sal toon hoe goeie idees deur meestersgraadstudente gepatenteer en gekommersialiseer kan word met die finansiële ondersteuning van industrievennote op verskillende vlakke. Dit kan in die vorm van vennootskappe, lisensiëring, vervaardiging of die stig van afwentelmaatskappye wees. Hierdie geïntegreerde benadering tot biomediese ingenieurswese is uniek en bestaan nie by ander universiteite nie."

Temas

Temas wat by SABEC 2018 gedek gaan word, sluit in: nano- of mikrotegnologie, biomeganika, neurowetenskappe en tegnologie, mediese toestelle, regulering van toestelle en kommersialisering, genetiese ingenieurswese ten opsigte van selweefsel, E-gesondheid en gesondheidstelsels.

Hoofspreker

ʼn Spesiale trekpleister by die konferensie is die hoofspreker, dr David Martin, stigter en hoof uitvoerende beampte van M-Cam. Martin word beskou as ʼn wêreldbekende deskundige op die gebied van die evaluering van intellektuele eiendom. Hy is ook die skepper van die IQ100-indeks wat sedert die ontstaan daarvan beter as die NASDAQ presteer het.

Agtergrond ter aanleiding tot SABEC

SABEC bou voort op die US se Fakulteit Ingenieurswese se gevestigde Biomediese Ingenieurswese Navorsingsgroep (BERG) – wat in 2005 deur wyle prof Cornie Scheffer gestig is.

In 2014 het BERG sy eerste Biomediese Ingenieurswese Konferensie aangebied met deelnemers van universiteite, navorsingsinstitute en nywerhede van regoor die wêreld. Die sukses van die eerste konferensie het gedien as 'n sterk motivering om voort te gaan met die totstandkoming van die IBE. Die IBE is in 2015 gestig om bestaande en addisionele navorsingskapasiteit in Biomediese Ingenieurswese te versterk en uit te bou oor fakulteite heen in die Universiteit Stellenbosch. Die IBE integreer die pogings van navorsers van al die departemente in die Fakulteit Ingenieurswese, met dié van ander departemente binne die US Fakulteite Natuurwetenskappe, AgriWetenskappe en Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, asook ander sentra en institute op Stellenbosch.

Kommersialisering van ingenieurskonsepte

Katleho Biomedical, 'n gesamentlike onderneming tussen die US se tegnologie-oordragmaatskappy, Innovus, en innovation4life, 'n maatskappy wat fokus daarop om die lewe te verbeter deur innovasie binne die Biomediese ruimte, is onlangs gevorm om ingenieurskonsepte en tegnologieë, wat voortspruit uit die Instituut vir Biomediese Ingenieurswese en die Biomediese Ingenieurswese navorsingsgroep, te ontwikkel en te kommersialiseer. Dit word gedoen deur 'n broeikas vir betekenisvolle innovasie en kommersialisering in die sfeer van biotegnologie te bied.

Op die konferensie sal Katleho Biomedical sy idee-enjin, -proses en 'n aantal Biomediese innovasies wat aan die kom is, vertoon.

Meer inligting: prof Martin Nieuwoudt.