Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Professor besin oor reis van Hawston na intreerede
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 12/03/2018

Een van die uitdagings waardeur inwoners van Hawston in die gesig gestaar word, is om die persepsies wat mense gevorm het oor mense wat in hierdie kusdorpie gebore en getoë is, te bowe te kom.

Hierdie persepsies behels dikwels tienerswangerskappe, armoede en natuurlik, perlemoenstroping en bendeoorloë. 

“Ons moet ook vashou aan die goeie dinge wat uit Hawston kom," sê prof. Ronelle Carolissen, Visedekaan van die Fakulteit Opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch en die eerste professor wat deur Hawston Primêr opgelewer is.

Carolissen het onlangs haar professorale intreerede gelewer aan 'n gehoor wat haar familie, vriende, kollegas en mense uit haar geboortedorp ingesluit het. Carolissen se graad 5-onderwyseres, mev. Alma Bucchianeri, sowel as haar graad 11- en 12-biologieonderwyser van Hoërskool Harold Cressy, mnr. Lionel Adriaan, het ook die geleentheid bygewoon.

“Dit was 'n baie spesiale geleentheid. Uit 'n professionele oogpunt omdat dit die kulminasie van baie jare se harde werk is. Gegewe die statistieke oor die aantal swart, vroulike professors in Suid-Afrika, het ek 'n merkwaardige ding bereik. Maar ook persoonlik, as ek dink aan waar ek vandaan kom en oor elkeen wat 'n rol in my lewe gespeel het."

In die laat sewentigs, toe Carolissen haar laerskoolonderrig voltooi het, was daar nie 'n hoërskool op Hawston nie. Leerders se opsies was om skool te verlaat, om die risiko te neem om met die dikwels nie-funksionele bus Caledon toe te ry om Swartberg Sekondêre Skool by te woon, of om by vriende of familie wat nader aan die stad gewoon het, in te trek om hul skoolloopbaan in Kaapstad te voltooi.

As die kinders van twee onderwysers wat 'n hoë premie op onderwys geplaas het, het Carolissen en haar drie sibbe almal aan Hoërskool Harold Cressy in Kaapstad gematrikuleer.

“My ouers was baie betrokke by die Onderwysersliga en hul motto was: 'Laat ons vir ons kinders leef'."

Ná skool het Carolissen 'n BA-graad met Engels en Sielkunde as hoofvakke sowel as 'n honneursgraad in Sielkunde aan die Universiteit van Natal, nou die Universiteit van KwaZulu-Natal, verwerf. Sy het hierdie grade opgevolg met 'n Hoëronderwys-diploma (HOD) en meestersgraad in Kliniese Sielkunde aan die Universiteit van Kaapstad. Sy het haar doktorsgraad aan die US behaal en werk al sedert 2002 hier – eers in die Departement Sielkunde en later in die Departement Opvoedkundige Sielkunde in die Fakulteit Opvoedkunde.

As 'n dosent streef Carolissen daarna om 'n bemagtigende omgewing te skep sodat enige student – maak nie saak wie hulle is en waar hulle vandaan kom nie – kan deelneem.

“My doel is om onderrig te gee op 'n manier wat sosiaal regverdig en inklusief is," beklemtoon sy.

Terwyl sy vir haar intreelesing voorberei het, het Carolissen oor die belangrikheid van ondersteunende ouers, vriende en die konteks van die gemeenskap waaruit 'n mens kom, besin.

Sy is huiwerig om haarself 'n rolmodel te noem, want sy gee erkenning aan die ondersteuning en aanmoediging wat sy ontvang het. Nie alleen was haar ouma aan moederskant – een van die eerste onderwysers wat Wesley Kollege in Soutrivier opgelewer het – 'n rolmodel nie, maar haar ouers – albei onderwysers aan Hawston Primêr – het hul kinders ook aktief aangemoedig om tersiêre opleiding na te streef.

Haar pa, Hennie Carolissen, wat tot sy dood in 1982 Hawston Primêr se skoolhoof was, het altyd gesê die visse in die see gaan eendag verdwyn en mense moet hulself ook vir ander werke bekwaam.

“Dit is belangrik om jouself met mense te omring wat jou beste belang op die hart dra. Daardie persoon hoef nie noodwendig 'n familielid te wees nie. Dit kan 'n onderwyser of 'n sportafrigter of iemand anders in die gemeenskap wees," sê Carolissen.

Haar boodskap aan jong mense van Hawston is om groot te droom en maniere te vind om daardie drome 'n werklikheid te maak.

“Jy sal terugslae hê, maar met ondersteuning sal jy dit kan oorkom. Sprei jou vlerke en kyk wat die wêreld jou kan bied, selfs al wil jy jouself eendag in Hawston vestig."

Carolissen se ma, Katherine, nou 89, sowel as verskeie ander familielede woon steeds in Hawston en sy probeer om hulle minstens een keer per maand te besoek.

Foto: Prof. Ronelle Carolissen by prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier van die US, en prof. Yusef Waghid, waarnemende dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde.