Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ontmoet die KUZE – ’n vernuwende produk wat kindergesondheid bevorder
Outeur: Carine Visagie
Gepubliseer: 08/03/2018

Navorsers van die Afdeling Fisioterapie aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) het ’n multifunksionele, innoverende produk ontwerp wat leerders van jongs af aanmoedig om gesonder te wees.

Die KUZE is die resultaat van jarelange navorsing op die gebied van postuur en ergonomika deur prof Quinette Louw, Uitvoerende Hoof van die Departement Gesondheids- en Rehabilitasiewetenskappe, en haar mede-navorsers dr Sjan-Mari Brown en Dominic Fisher.

Die idee vir aanpasbare, multifunksionele toerusting het ontstaan nadat navorsing bevestig het dat leerders in die Wes-Kaap antropometries onvanpaste meubels gebruik wat ’n optimale sitposisie beperk.

“Die KUZE is ’n briljante, eenvoudige, robuuste uitvinding wat die verskeidenheid van ernstige kwale wat met ’n onaktiewe leefstyl in ons skole gepaard gaan, beperk,” sê Innovus, die US se interaksie- en innoveringsmaatskappy, wat die navorsingspan ondersteun het.

Louw verduidelik dat die KUZE as ’n hoogte-verstelbare sitplek gebruik kan word, maar dat dit ook in ʼn staanlessenaar omskep kan word wanneer dit op ’n bestaande lessenaar of tafel neergesit word. Dir stel leerders in staat om maklik te staan of te sit terwyl hulle werk.

“Volgens navorsing bevorder ʼn gereelde verandering van posisie konsentrasie, wat weer  akademiese uitkomste bevoordeel,” sê Louw. “Wanneer die KUZE as ’n staanlessenaar benut word, gebruik dit ook baie minder vloerspasie in die klaskamer. In teenstelling met groot, swaar tradisionele lessenaars en stoele, fasiliteer dít bykomende beweging en maak ook groepwerk makliker.”

Om te staan pleks van te sit, hou voorts metaboliese voordele in. Op hierdie manier help die KUZE die gesondheidsrisiko’s beperk wat met onaktiwiteit verband hou, soos oorgewig en diabetes. Die KUZE help ook om rug- en nekpyn te verminder.

Benewens die KUZE se veelvuldige funksies, is die ontwerp eiesoortig in die sin dat daar geen meganiese onderdele is nie en jong kinders die toerusting derhalwe maklik self kan verstel. Sodra die kind se ideale sit- en staanhoogte met die hulp van ’n volwassene bepaal is, kan hulle vinnig self die posisie in die klaskamer of tuis aanpas.

“Die KUZE het ook ’n aanpasbare oppervlak wat na links of regs geskuif kan word om die werkoppervlak te vergroot. Dit sluit ook ’n verwyderbare boek- of dokumentstaander in, wat maklik aangeheg kan word,” sê Louw.

Innovus het die patentproses namens Louw en haar span behartig en hulle bygestaan met besluite oor die kommersialisering van die KUZE.

Hoewel dit nog nie duidelik is of die Wes-Kaapse Onderwysdepartement die KUZE aan skole in die streek gaan verskaf nie, sal ouers dit binnekort self kan aanskaf. Die toerusting “groei” saam met die kind, en kan van die ouderdom van 3 tot 18 jaar gebruik word. Dit is dus ’n goeie belegging in die gesondheid en welsyn van ʼn kind.

“Ons is tans besig met die vervaardiging van die eerste 100 stoele. Diegene wat belangstel, kan gerus die span kontak,” sê Louw. “Die prys is nog nie gefinaliseer nie, maar die beraamde koste is R1 000.”

Kontak die Afdeling Fisioterapie deur +27 21 938 9300 te skakel of stuur ’n e-pos na Louw by qalouw@sun.ac.za.