Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
UWK-atleet wen weer Eikestad Straatmyl
Outeur: Martin Viljoen
Gepubliseer: 07/03/2018

Soos in 2017 het ʼn atleet van die Universiteit van Wes-Kaapland weer vanjaar die Dagbreek Straatmyl gewen. Ashley Smith het die afstand in Victoriastraat in ʼn goeie 4:08,96 afgelê. Johan Cronje, wat ook gister (Dinsdag 6 Maart 2018) deelgeneem het, is egter steeds die enigste atleet wat ʼn droommyl – die myl in onder 4 minute – by hierdie geleentheid agter sy naam kan skryf.

Die Dagbreek Straatmyl vorm deel van die Straatmylfees wat vanjaar ʼn internasionale kleur gekry het met die Nederlandse atletiekster, Luuk Wagenaar, wat ook deelgeneem het. Wagenaar was 5de in ʼn tyd van 4:13. Tweede oor die wenstreep was Bruce-Lynn Damons (ook van UWK) en Deon-Lee Hendrichs (in die kleure van die Stellenbosch Atletiekklub) was derde. Verlede jaar se wenner, Duwayne Philander, moes vanjaar met die 4de plek tevrede wees, terwyl Cronje, wat nog herstel van ʼn operasie, stewig vertoon het en onder die eerste 10 atlete klaargemaak het.

Dit was reeds die agste keer dat die Straatmylfees aangebied is en weer het die geleentheid deel gevorm van die Universiteit Stellenbosch (US) se Woordfees.

In die Ope Vroue-kategorie was Yandiswa Shanye eerste by die eindpunt in ʼn tyd van 5:14,64, Daniel Cronje van Kovsies tweede in 5:27,47 en Maties se Yvonne Steekamp was derde in 5:27,47.

Wat die Mans Ope-afdeling betref was daar ʼn uitstekende opkoms met meer as ʼn 100 atlete wat ten aanskoue van ʼn skaflike skare die roete aangedurf het. ʼn Klompie agterbankers het onder luide toejuiging met interessante uitrustings gespog wat bygedra het tot die feestelike atmosfeer. Onder andere het Superman en Spiderman vir opwinding gesorg. Op ʼn ernstiger noot het Sylvin Dirkse – in die kleure van die Stellenbosch Atletiekklub – dié afdeling in ʼn goeie tyd van 4:27,23 gewen.

Die aantal deelnemers in die skole kategorieë het vanjaar goed gegroei en seuns en dogters afdelings in o.15 en o.19 ouderdomsgroepe is gehou. Nuut op die program was ʼn afdeling vir veterane – mans en vroue bo 40. Hier het Max Rupert, wat vir Strand deelneem, die septer geswaai in ʼn tyd van 5:25, 85.

Altyd gewild op die Straatmylfees is die skaatsplank-afdeling, sovêr bekend die enigste myl-resies vir skaatsplankryers in Suid-Afrika. Hier is 'n “droommyl" weer aangeteken met Ben Fish wat koning gekraai het in ʼn tyd van 3:42,44.

Francois Fouché, organiseerder van die Straatmylfees, het gesê hy is baie beïndruk met die groei in die aantal deelnemers in al die afdelings en is veral opgewonde oor die Meestersafdeling wat die potensiaal het om groot groei te toon. “Met die Statebondspele vroeg in April, is die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe geskuif en kon verskeie top atlete ongelukkig nie vanjaar deelneem nie, maar ons sien daarna uit om ʼn nog sterker groep atlete volgende jaar aan dié unieke wedloop te sien deelneem."

Die eerste Dagbreek straatmyl is in 2011 ter ere van oud-Matie De Villiers Lamprecht aangebied. Hy was die eerste Suid Afrikaanse atleet om ʼn droommyl (die myl onder 4 minute)  te hardloop – ʼn myl is 1,609m. Dié geskiedkundige wedloop het op 13 November 1964 op Coetzenburg in Stellenbosch plaasgevind. De Villiers was toe ʼn inwoner van die Manskoshuis Dagbreek.

Borge het ingesluit Puma, PNA, ASLA, Submerged Industrial, Niva, die VDM Groep, Eikestadnuus en die US Alumni-kantoor. Verversings is verskaf deur Coke.

Foto's: Digital Image Warehouse