Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
AgriWetenskappe vier 100-jarige bestaan met mark
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 05/03/2018

Die honderdjarige bestaan van die Fakulteit AgriWetenskappe is op besonderse wyse gevier toe personeel en studente voor die Konservatorium saamgetrek het. Deel daarvan was 'n sogenaamde ruilmark (“barter market"). 'n Basaargees soos min het geheers – maar sonder dat enige geld hande verwissel het.

In dié gees is 'n eiervrug vir 'n botteltjie plantvoeding geruil, 'n stuk sjokoladekoek vir 'n sakkie groenrissies, en geskenksakkies vir saailinge wat uit eierdoppe groei. Die Akwakultuur-divisie het vars tilapia gebring, terwyl talle ywerige tuiniers met produkte uit hul groentetuine kom spog het. Die Departement Agronomie het die beste gemaak van 'n paar kratte boeke wat hulle as geskenk ontvang het, terwyl die Planteteeltlaboratium weer verskillende geure springmielies te ruil aangebied het. Die Departement Landbou-Ekonomie se Vlei Vinke-span het gebottelde water met oulik-versierde etikette met vinkies daarop verruil.

Die mark is amptelik met die lui van 'n klok geopen deur prof Danie Brink, dekaan van die Fakulteit AgriWetenskappe, wat die spanlede geluk gewens het met hul kreatiwiteit. Hy het ook die geleentheid gebruik om personeellede te bedank vir hul insette tot die lewering van uitstaande onderrig en navorsing, en hulle in te lig oor planne om die inname van studente wat kursusse volg te vergroot.  

Organiseerder Carin Bruce sê sy was aangenaam verras met die kreatiewe idees waarmee daar vorendag gekom is, en die lekker gees wat onder deelnemers geheers het.  Dit was ook 'n geleentheid vir personeel om sosiaal te verkeer. “Daar was selfs personeel uit verskillende departemente wat mekaar vir die eerste keer ontmoet het, al het hulle al vir jare elektronies met mekaar saamgewerk," vertel sy.

Die Dassie-wingerdrobot was ook te siene. Tydens die geleentheid is 'n tjek van meer as R1650 deur personeel aan die Small Things Fonds oorhandig. Dit word deur dr Rhoda Malgas bedryf ten bate van behoeftige studente wat dalk net 'n klein bedrag geld kort om byvoorbeeld 'n sakrekenaar, 'n ekstra boek of 'n oorjas te kan koop.

Die beoordelaars het 'n moeilike taak op hande gehad om tussen die beste planne te kies. Anchen Lombard en die Departement Voedselwetenskap se “Geluk in 'n Blik" is uiteindelik aangewys as die mees kreatiewe produk. Kleinighede is geblik en met 'n eg-Stellenbosch etiket versier. Die beste bemarkingsaksie is geloods deur die Departement Plantpatologie, wat die vrugtekelkies wat hulle te drinke aangebied het vernoem het na bekende tropiese siektes. (Sover bekend het niemand wat hul stalletjie besoek en “Pineapple Powdery Mildew" en “Watermelon Antracnose" gedrink het, enige nagevolge gehad nie). Die toekenning vir die beste spangees is gedeel deur die Departement Grondkunde en Monika Basson.

Die ruilmark-konsep het sy ontstaan by die Departement van Bewaringsekologie en Entomologie gehad, wat 'n paar jaar gelede met die idee begin het. Volgens departementshoof prof Karen Esler was dit deels 'n sosiale eksperiment, en het dit andersins vir mense die kans gegee om met hul handewerk en stokperdjies te kon spog

Verdere feesvieringe

Die Fakulteit AgriWetenskappe se eeufeesvieringe val saam met dié van die Universiteit Stellenbosch – én ook dié van die Departemente Plantpatologie, Genetika, Grondkunde en Hortologie. Dit het reeds die plant van 100 bome by Welgevallen Proefplaas ingesluit.

  • Op Vrydag 4 Mei bereik dit 'n hoogtepunt, wanneer gedenklesings, 'n wynproe en 'n galadinee gehou word.
  • Gratis gedenklesings word deur die vier departemente wat almal hul 100-jarige bestaan vier, aangebied. Die lesings vind almal in parallel in verskeie geboue op kampus om 4 Mei om 15:30 plaas. Die sprekers sluit onder meer Willem Botes (Departement Genetika), prof Leopoldt van Huyssteen (Departement Grondkunde) en dr Cheryl Lennox (Departement Plantpatologie) in.
  • Na afloop van hierdie lesings sal gaste kan proe aan Die Laan-wyne uit die US se eie Welgevallen wynkelder. 
  • 'n Eeufees-galadinee vind om 18:30 by Spier buite Stellenbosch plaas. Die gewilde liedjieskrywer en televisiepersoonlikheid Coenie de Villiers sal die gaskunstenaar wees. 'n Beperkte hoeveelheid kaartjies is nog beskikbaar.
  • Verskeie skilderye wat die kunstenaar Diane Johnson-Ackerman gemaak het van veral die fakulteit se historiese geboue sal uitgestal word.
  • Vir meer inligting oor die feesvieringe, kontak Carin Bruce by cbruce@sun.ac.za