Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
‘Aartsvyande’ maak reg vir ‘wedstryd van die eeu’
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 04/03/2018

Die rugbywedstryd van die eeu. So kan Maandagaand (5 Maart 2018) se Varsitybeker-wedstryd tussen aartsvyande die Universiteit Stellenbosch (US) en die Universiteit van Kaapstad (UK) in die Danie Craven-stadion op Coetzenburg in Stellenbosch beskryf word.

Om 19:00 sal die twee universiteitspanne aantree vir hul 106de kragmeting – in die US se eeufeesjaar. Die trotse tradisie van die twee opponente – die Maties en Ikeys – staan steeds sterk, maar daar sal Maandagaand geen genade betoon word nie.

Sowat 18 000 toeskouers word in die stadion verwag vir die wedstryd wat op Supersport uitgesaai sal word. Die Maties se super-gewilde gelukbringer, Pokkel, sal ook op sy pos wees om ondersteuning aan die Matie-spelers en -ondersteuners te bied.

“Maties" en “Ikeys"

Volgens die US-eeufees-publikasie, Die Universiteit Stellenbosch 100: 1918-2018, (sien artikel en video) dateer die geskiedenis van die oorsprong van die name Maties en Ikeys terug na ten minste 1905, toe die woord “Maties" reeds in joernale gebruik is. Daar is onder meer na nuwe studente verwys as “maats" van die kampus – wat later “Maties" geword het. Later het UK-studente spottenderwys na US-studente verwys as “Tamaties" – ook natuurlik op grond van die maroen kleur van die US se rugbytruie.

Op hul beurt het Stellenbosch-studente hul teenstanders die naam Ikeys in omstreeks 1919 gegee – volgens sommige op grond van die verbintenis met die Joodse naam “Isaac". ʼn Ander verduideliking lui dat dit afgelei is van die Afrikaanse woord “outjies" soos gebruik in Intervarsity-liedjies soos “Die Kaapse outjies het van ons al menig pak gekry".

ʼn Eeu van wedywering

Maties en Ikeys het die afgelope 107 jaar al ten minste 105 wedstryde gespeel. Van hierdie wedstryde het Maties 70 gewen, Ikeys 19 en 16 wedstryde was gelykop. Die totale punte wat Maties oor die afgelope eeu behaal het, is 1 603 en 370 vir Ikeys. Die wedywering dateer uit 1911, weliswaar toe as die Suid-Afrikaanse Kollege en die Victoria Kollege, sewe jaar voordat albei universiteite op dieselfde dag op 2 April 1918 gestig is. In die eerste wedstryd in 1911 het Ikeys 9-0 gewen. Die wedstryd in 1918 was gelykop met geen punte wat aangeteken is nie.  

Prof Wim de Villiers, US-Rektor en Visekanselier, en sy UK-eweknie, dr Max Price, Visekanselier, sal Maandag onder eregaste wees. Die twee hoofde sal tydens rustyd saam ʼn verjaarsdagkoek sny – simbolies van beide die US en UK (as 'n instansie wat grade kan toeken) wat in 1918 op dieselfde dag amptelike universiteitstatus ontvang het (skakel na UK se geskiedenis).

Springbokke teenwoordig

Voor die afskop van die wedstryd hou die US se afdeling Ontwikkeling en Alumni-verhoudinge ʼn spesiale alumni-geleentheid in Die Stal op Coetzenburg. Meer as 30 voormalige Matie-Springbokke is eregaste by dié geleentheid. Dit sluit onder andere in Schalk Burger, Jan Boland Coetzee, Morné du Plessis, Dawie de Villiers, Carel du Plessis, Mannetjies Roux, Dawie Snyman, Rob Louw, Tiaan Strauss, Divan Serfontein, Pieter Rossouw, Breyton Paulse, Corné Krige, Chester Williams en Avril Malan.

  • Skakel met Marvin Koopman by tel 021 808 9265, e-pos marvin@sun.ac.za vir meer inligting oor dié geleentheid.

Die voormalige Springbokke sal ook voor die wedstryd op die veld aan die skare bekendgestel word.

Om verdere glans aan die wedstryd te verleen word meer as ʼn 100 vlae om die stadion opgerig – elk met ʼn unieke datum.

Voorwedstryde tot die hoofwedstryd is die Maties Young Guns vs hul UCT-eweknieë (14:00), terwyl Maties se Huis Marais die CUT Lions van Bloemfontein die stryd aansê.

  • Kaartjies vir die wedstryd is beskikbaar op webtickets