Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Alexander Forbes Groepbestuurshoof-beursskema skep blink toekoms vir begaafde studente
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 01/03/2018

Die talentvolle Matiestudent Nhlakanipho Mkhize se drome om die graad BCom (Aktuariële Wetenskap) te voltooi is bewaarheid danksy die pas gestigte Alexander Forbes Groepbestuurshoof-beursskema.

Hierdie beursskema, wat onlangs by die Universiteit Stellenbosch (US) bekend gestel is, ondersteun voorgraadse studente wat akademies uitblink dog uit benadeelde omstandighede kom om hulle tersiêre studie in sake- en finansiesgerigte vakrigtings te voltooi. Studente word vanaf hulle tweede studiejaar bygestaan.

Die beurs dek klasgeld, handboeke en lewensonkoste. Boonop bied dit die ontvanger 'n geleentheid om aan Alexander Forbes se internskapprogram deel te neem, mentorleiding van een van 'n verskeidenheid senior bestuurders te bekom, vakansies te werk en toegang tot die kantoor van die groepbestuurshoof te verkry.

Alexander Forbes se jare lange vennootskap met die US sluit vele skenkings aan die Universiteit sowel as steun aan 'n aantal Matiestudente in. Hierdie nuwe beurs is benewens die maatskappy se bestaande beursprogram, wat jaarliks 41 studente baat.

Die Alexander Forbes Groepbestuurshoof-beursskema sal aanvanklik steun verleen aan tweede- en derdejaarstudente aan die Universiteit van Kaapstad, die US, die Universiteit van die Witwatersrand en Nelson Mandela-universiteit, sê Thabo Mashaba, Alexander Forbes se hoofbeampte vir bemagtiging en transformasie.

Die beursskema is spesifiek afgestem op studente uit huishoudings met 'n gesamentlike jaarlikse inkomste van hoogstens R600 000, synde die maksimum inkomstedrempel wat die regering vasgestel het met die aankondiging van gratis tersiêre onderwys. Mashaba sê die universiteite sal die beursaansoeke hanteer en 'n kortlys van studente aan Alexander Forbes voorlê, wat dan onderhoude sal voer en die suksesvolle kandidate sal aanwys.

Andrew Darfoor, Alexander Forbes se groepbestuurshoof, sê die maatskappy is ingenome om tot vaardigheidsontwikkeling by te dra en terselfdertyd graduandi van werk te voorsien.

“Suid-Afrika staan nie net voor 'n werkloosheidsprobleem nie, maar ook 'n tekort aan sekere vaardighede wat die finansiëledienstesektor in die algemeen en die pensioen- en aftreesektor in die besonder nodig het. Daarom glo ons dat die Alexander Forbes Groepbestuurshoof-beursskema hierdie vereiste vaardighede sal help ontwikkel en ook die werkloosheidsprobleem sal verlig, veral onder graduandi," sê Darfoor.

In sy toespraak by die bekendstelling van die beursskema het prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, Alexander Forbes vir hulle belegging in die toekoms bedank. “Want dít is wat 'n belegging in die onderwys is … 'n belegging in 'n beter toekoms. Soos Benjamin Franklin gesê het: 'n Belegging in kennis lewer altyd die beste rente."

Volgens prof De Villiers het verskeie jong Suid-Afrikaners 'n helpende hand nodig en sal selfs diegene wat staatsfinansiering ontvang bykomende steun nodig kry – nie net monetêr nie, maar ook ander vorme van bystand. “Daarom is ek besonder bly dat die Alexander Forbes Groepbestuurshoof-beurs nie net klasgeld, handboeke en lewensonkoste dek nie, maar ontvangers ook in 'n internskapprogram sal opneem. En hulle boonop toegang sal gee tot 'n mentor, vakansiewerk, en die kantoor van die groepbestuurshoof.

“Dís hoe dit gedoen word – om 'n pad met studente te stap – om nie net te praat nie, maar daad by die woord te voeg," het hy bygevoeg.

Vir beursontvanger Nhlakanipho is dit 'n voorreg om die eerste ontvanger te wees, maar dit plaas ook ekstra druk op hom. Tog sien hy kans vir die uitdaging en is hy reg om homself te motiveer om te groei en sukses te behaal. “Hierdie beurs sal my beslis op my tone hou om akademies te presteer en altyd hard te werk."

Nhlakanipho, wat van KwaZulu-Natal kom, sê om op Stellenbosch by Maties te studeer is 'n wonderlike geleentheid om homself te ontdek – weg van sy familie en bekende omgewing.

Hy sien ook uit na sy internskap by Alexander Forbes, om meer oor die onderneming te leer, 'n suksesvolle beleggingsaktuaris te word, en uiteindelik 'n beter lewe vir sy familie te skep. “Hulle het soveel gedoen om my hier te hou, so om hulle lewens makliker te maak sal my manier wees om hulle vir hulle opofferings te bedank."

  • Foto: Mnr Thabo Mashaba, Nhlakanipho Mkhize en prof Wim de Villiers.