Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Beste Matie ingenieurstudent sê balans is die antwoord
Outeur: Liesel Koch
Gepubliseer: 23/02/2018

"Van jongs af het my Pa vir my interessante goed vertel, soos hoe wolke vorm. Hy het die mees alledaagse goed altyd van 'n wetenskaplike oogpunt verduidelik en dit was vir my so interessant!" sê Madelein Louw. Haar gemiddeld van 89,92% het aan haar die merietemedalje van die Ingenieursraad van Suid-Afrika (ECSA) besorg wat jaarliks toegeken word aan die Matie ingenieurstudent met die beste gemiddeld oor vier jaar van studie.

"Ek het op skool reeds 'n groot liefde vir wiskunde en wetenskap gehad. Later het ek uitgevind dat ingenieurswese maar die beste en opwindendste beroep in daardie veld is," verduidelik sy.

"Ek het bedryfsingenieurswese gekies, want ek hou daarvan om 'n span te lei. Ek hou ook daarvan om alles te optimeer of so gou en doeltreffend moontlik te doen. Ek is eintlik irriterend in daardie opsig! Ek het agtergekom dat daardie natuurlike dryfkrag van my eintlik iets is wat bedryfsingenieurs so onmisbaar maak."

Waaraan skryf sy haar sukses toe dat sy die wenner van dié gesogte medalje is? Sy antwoord: "Ek is 'n bietjie van 'n 'over-achiever' en sukkel om iets half te doen. Dit het baie gehelp. Ek het ook deur my studieloopbaan geleer om goeie tydsbestuur te handhaaf. Ek het probeer om altyd vir my vriende, familie, sport en ontspanning tyd te maak. Ek het vroeg agtergekom: hoe meer 'n mens het om te doen, hoe meer kry jy gedoen. Dit was ook goed om nou en dan iets lekkers te doen soos bergklim of fietsry, wat dan my studietyd soveel meer produktief gemaak het. Ek het in die vier jaar op Stellenbosch die Argus sowel as die 947 fietswedrenne gedoen en soveel moontlik berge in die Wes-Kaap geklim. Die feit dat ek goeie ondersteuning van familie en vriende gehad het en gelukkig was, het baie gehelp. 'n Mens kan mos nie lekker werk of leer as jy ongelukkig is nie!"

Madelein se raad aan eerstejaars is: "Belê genoeg tyd in jou verhoudings, gesondheid en ontspanning. Balans is die antwoord. Enige slegte ding of tyd is altyd tydelik. Moet ook nooit jouself met ander vergelyk nie. Daar sal altyd iemand wees wat beter of slimmer as jy is. Gee net jou beste, en as jy dan toevallig eerste of tweede kom, is dit 'n bonus."

Madelein werk tans by Sasol in Secunda. Oor haar nuwe werk is sy gaande: "Dit is eintlik baie lekker hier, nie so sleg soos wat sommiges voorspel het nie! Ek is bevoorreg dat ek by Sasol 'n beurs gekry het en nou opgeneem is in Sasol se "Graduate Development Program." Sy sê interpersoonlike verhoudinge, effektiewe verkryging van relevante inligting en goeie algemene logika is tot dusver die vaardighede wat sy die meeste nodig het en aanleer. "Ek word regtig uitgedaag en leer baie," sluit sy af.

Foto: Madelein Louw, ECSA-medaljewenner.