Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
“Hoekom kom so min nagraadse studente bo uit?” - Prof Jonathan Jansen
Outeur: Florence de Vries
Gepubliseer: 23/02/2018

“Enigeen kan ’n graad behaal. Maar nie almal kan bo uitkom nie.”

Prof Jonathan Jansen, uitgelese professor aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Opvoedkunde en ʼn mentor van nagraadse studente, het ʼn tersaaklike vraag tydens ʼn voordrag aan die studente en personeel van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (Tygerberg-kampus) geopper: “Hoekom kom so min nagraadse studente bo uit?”

Sy praatjie, wat van ʼn lesing tot ʼn gesprek gewissel het, het stof tot nadenke gebied oor wat gepaste en volgehoue kritiese denke behels in ʼn tyd waarin Suid-Afrika se dekoloniseringsprojek volgens sommige “aansienlike” momentum behaal het.

Jansen het aangevoer nagraadse studente kom dikwels nie bo in hul veld uit nie omdat hulle nie geleer het hoe om die hulpmiddels te  gebruik wat nodig is om krities met literatuur of die heersende leidende denke om te gaan nie. “Dink byvoorbeeld aan dekolonisering. Mense is geneig om daarmee akkoord te gaan en sien in dat die oorsprong daarvan ver tot in die anti-koloniale beweging terugstrek – maar probeer om dit na die konteks van ʼn demokratiese staat oor te bring.”

Ofskoon sy praatjie nie spesifiek oor aspekte van bestaande pedagogiese beperkings rakende onderrigstrategieë gegaan het nie, het hy wel aangevoer dat talle nagraadse studente neig om in “stamdenke” te verval omdat hulle “so afhanklik van gesag is en soveel respek daarvoor het”. Volgens hom lei dit tot ʼn onvermoë om eie (kritiese) denke te ontwikkel.

Jansen het voorts benadruk dat suksesvolle nagraadse student diegene is wat hul denke verder as hul eie vaderland kan projekteer: “Ek hoop julle is ambisieus. Volgens my ervaring moet jy van ʼn plek weggaan om werklik te presteer en die toppunt van jou vermoë te bereik. Om in die buiteland te studeer stel jou in staat om jou verbeelding verder te verbreed as waar jy op enige gegewe oomblik is, aangesien dit behels om aan ʼn ander manier van onderrig en studeer gewoond te raak.”  

Hy het voorts benadruk dat dit belangrik is om die vermoë te ontwikkel om dinge in twyfel te trek. “Moenie bloot met die stroom saamgaan nie.”  

Jansen het gesê kritiese denke en empatie word dikwels in die wiele gery deur die vrees om aan moeilike diskoerse deel te neem, veral op mediese gebied. “Nagraadse studente met die vermoë om empaties te dink ... veral op die gebied van geneeskunde- en gesondheidswetenskappe, sal veral suksesvol wees omdat hulle ‘n soort toewyding tot pasiënte ontwikkel waarvolgens dit nie belangrik is of daardie mense ryk of arm is en of hulle aan hulle “stam” behoort of nie,” het hy gesê.

Hy het nagraadse geneeskunde- en gesondheidswetenskappestudente uitgedaag om verder as vasgestelde grense te dink. “Suid-Afrika is ʼn land van ‘nou’. Ons het ʼn obsessie om die reëls van die assesseringspel te leer ... en dit verwring die doel van ʼn universiteit. Pleks daarvan moet ons dink: Hoe breek ek daardeur? Hoe sal dit wat ek nou doen, oor ’n paar jaar ’n groot verskil maak?”