Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Hulde aan Sampie Terreblanche: legendariese ekonoom, geliefde lektor en kritiese stem
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 18/02/2018

“Dit is met groot hartseer dat ek namens die Universiteit Stellenbosch ons diepe meegevoel betuig teenoor die familie van prof Sampie Terreblance,” het prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch gesê. “Ons eer hom as ʼn legendariese politieke ekonoom; geliefde inspirerende lektor vir duisende van ons studente, en een van die US se kritiese stemme.”

Die US het Prof Terreblanche op 10 Desember 2015 met ʼn eredoktorsgraad vereer. Sy akademiese loopbaan aan die US het oor die helfte van die 90 bestaansjare van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (EBW) gestrek. Hy is met die graad Doktor in die Handelswetenskappe (DCom) Honoris Causa vereer vir sy "uitsonderlike bydrae as diepsinnige ontleder van sosiaal-ekonomiese stelsels, sy klem op sosiale verbetering vir almal in talle rigtinggewende publikasies en sy vreeslose voorspraak vir die beëindiging van apartheid in Suid-Afrika". Hy het deur die jare ʼn onuitwisbare impak op menige ekonomiestudent aan die US gehad.

Met sy kenmerkend lewendige aanbiedingstyl geniet “prof Sampie” die status van ʼn legende aan die US. Met dieselfde geesdrif waarmee hy denke oor die sosiaal-ekonomiese stelsel beïnvloed het, het hy sy vakgebied vir studente ontsluit. Talle vooraanstaande ekonome skryf hul sukses aan dié vernuwende denker en geliefde professor toe.

Sy klem op sosiale verbetering vir die groot gemeenskap is ʼn deurlopende tema in sy werk. As lid van die destydse Kommissie van Ondersoek na Aangeleenthede rakende die Kleurlingbevolkingsgroep (1973–1967) – die Erika Theron Kommissie – kom hy diep onder die indruk van die probleem van strukturele armoede. Dit word ʼn blywende invloed in sy denke oor die Suid-Afrikaanse politieke ekonomie en figureer in baie van sy publikasies, waaronder 12 boeke en meer as 30 artikels en boek hoofstukke. Selfs andersdenkende vakgenote erken ruiterlik die hoogstaande gehalte van sy werk.

Sy bydrae tot politieke transformasie is eweneens op die strewe na sosiale verbetering vir die benadeelde meerderheid gerig. Ná 1994 bly sy insigte rigtinggewend en is veral sy A history of Inequality in South Africa, 1652–2002 ʼn belangrike verwysingspunt vir hedendaagse Suid-Afrikaanse ekonomiese en sosiale analise.