Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe eenheid bied logistieke steun vir gedesentraliseerde opleiding
Outeur: Communications and Marketing
Gepubliseer: 13/02/2018

ʼn Nuwe organisatoriese eenheid met die taak om die logistieke aspekte van gedesentraliseerde opleiding te fasiliteer is onlangs by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) gevestig.

Gedesentraliseerde opleiding – wat kliniese opleiding by primêre, sekondêre en tersiêre gesondheidsorgfasiliteite behels – berei studente voor om te werk in die areas en fasiliteite waar hulle in die toekoms toegewys gaan word. Hierdie soort doelgemaakte opleiding is ʼn belangrike doelwit van die FGGW.

Die nuwe eenheid, bekend as SUNLOC (Universiteit Stellenbosch Logistiek vir die Kliniese Opleidingsplatform), is voorheen by die Ukwanda-sentrum vir Landelike Gesondheid gehuisves. Dit is nou ʼn onafhanklike, professionele ondersteuningsdiens wat val onder dr Therese Fish, Visedekaan: Kliniese Dienste en Sosiale Impak.

“Ons visie is om die kliniese opleidingsplatform vir studente te ‘ontsluit’. Ons missie is om tot transformatiewe leer deur optimale logistieke steun vir studente by te dra,” het dr Guin Lourens, Bestuurder: Kliniese Platformopleiding, in November 2017 by die amptelike bekendstelling van die eenheid gesê.

SUNLOC se kantore is op die Universiteit Stellenbosch se Tygerbergkampus geleë en bied vervoer- en huisvestingsoplossings, asook IT-steun aan voorgraadse studente wat opleiding by ʼn aantal stedelike en landelike streekshospitale, distrikshospitale en klinieke in die Wes-, Noord- en Oos-Kaap ondergaan.

SUNLOC ondersteun ook ʼn aantal diensleersentrums by hierdie afgeleë fasiliteite, om seker te maak studente het dieselfde leergeleenthede as wat hulle op kampus sou gehad het.

“Gedurende die laaste dekade het ons platforms al hoe verder weg versprei soos wat studentegetalle styg en dït is strategies belangrik wat vennootskappe betref. Vandag bied ons opleiding by 100 fasiliteite landwyd aan,” het Fish gesê.

“Die totstandbrenging van SUNLOC is baie strategies betreffende hoe ons verseker dat ons studente die beste opleidingsgeleenthede kry, hetsy of hulle op kampus of op die periferie is,” het sy bygevoeg.

Onderskrif: Die amptelike bekendstelling van die SUNLOC-eenheid.