Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Fakulteit Agriwetenskappe vier 100 jaar met 100 bome
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 09/02/2018

​Eerstejaarstudente van die Fakulteit Agriwetenskappe het die honderdjarige bestaan van nie alleen die Universteit Stellenbosch nie, maar ook van die fakulteit herdenk deur 'n seremoniële plantery van 100 inheemse jong boompies wat in die toekoms die terrein van die Welgevallen eksperimentele plaas in Stellenbosch sal versier.

Die Fakulteit Agriwetenskappe was een van die stigtersfakulteite van die Universiteit Stellenbosch en vier van sy departemente – Grondkunde, Plantpatologie, Hortologie en Genetika – word ook vanjaar 100.

Die “100 jaar, 100 bome"-seremonie was die eerste van verskeie geleenthede wat deur die fakulteit gereël word om hierdie spesiale geleentheid te vier.

Prof. Danie Brink, Dekaan van die Fakulteit, het aan die studente gesê hy glo 'n boom is uniek omdat dit die vermoë het om die toekoms sowel as die verlede vas te vang. Mens kan jouself nie net probeer voorstel hoe 'n boom in die toekoms gaan lyk nie, maar sy jaarringe kan jou ook iets oor die verlede vertel.

“ 'n Boom is 'n gepaste simbool wat ons herinner om die verlede te vier en die toekoms te visualiseer. En met 'n jong boompie is daar ook in die hede 'n groot verantwoordelikheid. Iemand moet dit koester, versorg en selfs oor tyd vorm. Dit is ook waaroor studies gaan – dit is nie net 'n geleentheid nie, maar ook 'n baie groot verantwoordelikheid," het hy die studente herinner.

“Visualiseer jouself as een van hierdie bome wat groei en ontwikkel."

Die bome is ook veronderstel om as 'n permanente verbintenis met Stellenbosch te dien.

Die jong boompies – wat die silwereik, papierbas-doringboom, soetdoring en karee insluit – is in sakke geplant en sal nou die res van die somer in een van die landboutonnels by die Welgevallen eksperimentele plaas deurbring voordat dit op aangewese plekke op die terrein geplant sal word.

Andréas de Jager, 'n eerstejaarstudent in Wingerd- en Wynkunde, was opgewonde om deel van hierdie spesiale geleentheid te wees en dat 'n deel van hom altyd in Stellenbosch sal bly.

Bosbou en Houtwetenskappe-student Thabile Pitjo is baie lief vir die natuur en om deur bome omring te wees, en was baie bly om haar eie boom te plant.

Fotokrediet: Anton Jordaan