Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
In ’n neutedop: 2017-hoogtepunte by die IPB
Outeur: C van der Vyver
Gepubliseer: 09/02/2018

Soos dit elke jaar die geval is, was 2017 weer 'n besige en produktiewe jaar by die Instituut vir Plantbiotegnologie (IPB).

Een van die kernfunksies van die IPB is om studente op te lei. 'n Hele aantal studente het hulle tesisse suksesvol afgehandel en gegradueer. Dit sluit in twee PhD-studente, dr Zheto Pholo en dr Roya Ndimba, terwyl 'n bykomende vier meestersgraad- en ses BScHons-studente ook hul graad behaal het. Ons wens al hierdie studente geluk met 'n uitnemende prestasie.

Dr Paul Hills se termyn as president van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Botaniste (SAAB) het in 2017 begin. Volgens die SAAB se grondwet dien hy as president vir 2017 en 2018. Dr Hills se intreerede by die SAAB-konferensie, wat van 9 tot 12 Januarie by die Universiteit van Pretoria aangebied is, was 'n dawerende sukses.

'n Nuwe Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel-inisiatief (SARChI) op die gebied van voedingsbiotegnologie, met dr Bianke Loedolff aan die spits en met die medewerking van prof Sharon Prince van die Universiteit van Kaapstad, het ook in 2017 die lig gesien. Die gedagte is dat groen blaargroente, soos wilde roket en krulkool, met goeie voedingstowwe verryk word terwyl dit nog groei. 'n Paar interessante en gewilde artikels is oor hierdie onderwerp gepubliseer, wat in die Natal Mercury (Greens protect body from lifestyle disease; https://www.pressreader.com/south-africa/the-mercury/20171107/281805694202347) en in AgriOrbit (Microgreens: More than just a garnish; https://agriorbit.com/micro-greens-more-than-just-garnish/) verskyn het. 'n Eenvoudige metode vir die bioverryking van wilderoket-mikroloofgroente deur manipulasie met hoë ligsterkte het in die tydskrif Functional Foods in Health and Disease (7 [11], 859–872) verskyn.

'n Paar van die IPB se personeellede en studente het ook oor die wêreld heen gereis en aan verskeie wetenskapskonferensies deelgeneem, navorsing aangebied en medewerkers ontmoet. Van hierdie konferensies was die Tweede Internasionale Kongres oor Strigolaktone wat in Maart by die Universiteit van Turin, in Italië, gehou is en deur dr Hills bygewoon is. Dr Loedolff het die 22ste Internasionale Konferensie oor Funksionele Voedsel by die Harvard Universiteit in Boston bygewoon. 'n Aantal IPB-personeellede en studente het in Januarie die 43ste Jaarlikse Konferensie van die SAAB in Milnerton, Kaapstad, bygewoon en referate daar gelewer. Verder het die nagraadse studente Melt Hugo en Janto Pieters hulle navorsing tydens die jaarlikse Studentesimposium vir Wetenskap by die Universiteit van Pretoria aangebied. Malira Masoabi het vorige en huidige IPB-suikerrietnavorsing by die Departement van Handel en Nywerheid en die Tegnologie en die Menslike Hulpbronne-vir-Nywerheidprogram (THRIP) se Nywerheid-Universiteit-samewerkingsimposium in Pretoria aangebied.

Die nuwe Suid-Afrika-Indië-wetenskap-en-tegnologienavorsingsooreenkoms tussen die IPB (aangevoer deur dr Christell van der Vyver) en die Departement Lewenswetenskap en Bio-informatika aan die Universiteit van Assam in Silcher, Indië (onder leiding van prof Sanjib Panda), is in Januarie 2017 bekend gestel. As deel van dié nuwe samewerkingsooreenkoms het die MSc-student Coenrad van Beek in Januarie na Indië gereis om sy navorsing by die Internasionale Simposium oor Plantbiotegnologie vir Oesverbetering aan te bied, waarna hy vir drie weke in prof Panda se laboratorium gewerk en opleiding ontvang het. Prof Panda het ook die IPB aan die einde van Februarie besoek. As besoekende professor het hy 'n aanbieding by die forum, wat die Departement Genetika gereël het, gelewer.

Twee IPB-personeellede, dr van de Vyver en dr Shaun Peters, het 'n “gesels wetenskap"-reis met kinders via die ooptoegang-webtydskrif Frontiers for Young Minds (How do plants deal with dry days?; https://kids.frontiersin.org/article/10.3389/frym.2017.00058) as werktuig aangepak. In 2014 lys die Amerikaanse Vereniging van Navorsingsbiblioteke hierdie webtydskrif as een van die “Groot webtuistes vir kinders", terwyl senior redakteurs van Nature dit ook as die beste wetenskappublikasie in dekades uitsonder en dit as 'n wonderlike werktuig vir openbare kommunikasie beskou. Die IPB-personeel hoop dat die artikel kinders sal aanmoedig om ingeligte en kritieke vrae oor werklike wetenskapkwessies te vra.

In geheel gesien was 2017 gewis 'n produktiewe jaar vir die IPB.




​​