Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nagraadse skool vier 5de bestaansjaar
Outeur: Ronel Beukes
Gepubliseer: 31/01/2018

Die Nagraadse Skool vir Ekonomiese en Bestuurswetenskappe vier vanjaar sy vyfde bestaansjaar.

Die skool is gestig as deel van die fakulteit se navorsingstrategie en is die tuiste van 'n voltydse, residensiёle doktorsgraadprogram. Die eerste voltydse PhD-studente het in 2014 met hul drie jaar lange navorsingsprojekte begin. Die inisiatief is die volgende jaar uitgebrei om ook 'n Nagraadse Skool vir Personeel in Ekonomiese en Bestuurswetenskappe in te sluit.

Die skool bied finansiёle hulp wat aan 'n gedeeltelik gestruktureerde ondersteuningsprogram gekoppel is en help studente met die kern van hul studies om hul sodoende in staat te stel om 'n PhD-graad binne drie jaar te behaal. Die nagraadse skool vir personeel bied 'n soortgelyke ondersteuningsprogram wat personeel van die fakulteit die geleentheid gee om vir vier tot vyf jaar deeltyds aan hul PhD-grade te werk.

Die nagraadse skool het onlangs ʼn nuwe groep PhD-studente verwelkom en het nou 30 voltydse studente uit 14 lande, terwyl 22 personeel vir die deeltydse program ingeskryf is.

Hoewel die meeste voltydse studente uit Afrikalande afkomstig is, het studente uit Sjina, Oostenryk, Nederland, Duitsland en die Verenigde Koninkryk ook al by die skool studeer.

Die sukses van die program het nuwe plaaslike en internasionale donateurs se aandag getrek met die gevolg dat die Millennium Trust en die Duitse Akademiese Uitruildiens (DAAD) die program steun.

“Die feit dat die program beurse vir voltydse studie van drie jaar aanbied, dra aansienlik by tot die sukses daarvan," het dr. Jaco Franken, bestuurder van die skool, gesê. “Dit beteken egter ook dat daar 'n voortgesette behoefte aan befondsing is."

 

  • Banierfoto: Voltydse en deeltydse PhD-studente van die Nagraadse Skool vir Ekonomiese en Bestuurswetenskappe het 'n verwelkomingsfunksie by Middelvlei Landgoed te Stellenbosch bygewoon.
  • Regs: Dr Jaco Franken, bestuurder van die nagraadse skool, en die dekaan, prof Johan Malan, het PhD-studente toegespreek tydens die verwelkomingsfunksie te Middelvlei.

Dean&JacoFranken.jpg