Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US nuwelingstudente droom groot by amptelike verwelkoming
Outeur: Rozanne Engel / Corporate Communication
Gepubliseer: 26/01/2018

Elke jaar word duisende nuwelingstudente die geleentheid gebied om groot te droom tydens die amptelike verwelkomingsplegtigheid van die Universiteit Stellenbosch (US).

As deel van die formele verwelkomingsproses op Donderdag (25 Januarie) by die Danie Craven-stadion op Coetzenburg, het nuwelingstudente deelgeneem aan die amptelike Dream Launch-geleentheid, wat die simboliese toegang tot hulle US-lewe uistippel.

Pokkel.jpg

Met die Dream Launch, is studente aangemoedig om hulle doelwitte en drome op papier ofte wel "blare," neer te stip wat oor die oop sportvelde by die stadion geblaas is. Studente het ook op die sportveld vergader waar hulle 'n groot syfer "100" op die gras omkring het wat aantoon dat 2018 die 100ste jaar van die eerstejaar se drome was.

Ferdi van Dyk, Administratiewe Beampte van die Sentrum vir Studenteleierskap en Strukture, het gesê die doel met die Dream Launch-geleentheid was om vir die eerste keer alle eerstejaars, uit verskillende agtergronde, byeen te bring.

Nuwe studente.jpg

"Die doel is om die ontwikkeling van studente se akademiese en nie-akademiese mikpunte aan die Universiteit Stellenbosch aan te toon. Met die Dream Launch wil ons hulle wys dat die Universiteit en die mense naby aan hulle hul drome in die komende jaar sal ondersteun. Ons sluit hulle ouers en voogde in, wat die ondersteuning in die vorige fase van hul lewens was, asook die betrokke Universiteitsfakulteit en die Studentedekaan, wat op die reis vorentoe sal hand bysit, het Van Dyk gesê.

Die Dream Launch is deel van CONNECT, 'n studente-gedrewe organisasie wat op die skep van maatskaplike bewustheid fokus en om studente meer bewus te maak van die sosiale impak wat hulle kan hê onderwyl hulle aan die US studeer.

Nuwelingstudente deel hulle drome

Dricus Jacobs van Robertson, wat BSc Aardwetenskap gaan studeer, het gesê: "Ek wil net deel wees van iets goeds en groots aan die US."

Austin Newman van Vredendal, 'n BCom-student in Bestuurskunde, droom dat hy eendag kan terugploeg wat hy aan die US geleer het." Ek wil my Meesters doen en terugkom na Stellenbosch om aan die Universiteit te doseer."

Kim Yammin van Johannesburg, wat BSc (Dieetkunde) gaan studeer en in Hippokrates op die Tygerberg-kampus inwoon, het gesê sy wil net 'n "meer vervullende lewe hê" en haar bes doen terwyl sy aan die US studeer.

BSc Landbouwetenskappe-student Tamsin Newman, van Kuilsrivier, het gesê haar droom terwyl sy aan die US is, is; "bly gemotiveerd, selfs al is dit moeilik."​