Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kapenaars se hulp gevra vir projek oor Tafelberg
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 24/01/2018


Joey Hulbert is 'n student op 'n missie om Tafelberg te beskerm teen piepklein plantdodende organismes uit ander lande.  Om dít te doen, moet hy eers weet watter soorte daar reeds in Kaapstad se buurte en natuurgebiede is, en of enige daarvan rede tot kommer bied. Daarom vra hy Kaapse inwoners om in hul tuine en buurte te kyk vir plante wat doodgaan, en dan vir hom grondmonsters te stuur.

Hulbert werk deur die Universiteit van Pretoria aan sy PhD in plantpatologie, maar is as navorsingsgenoot by die Universiteit Stellenbosch gebaseer. Dis omdat hy besig is om 'n inventaris op te stel van die soorte Phytophthora-spesies wat in die Kaapse fynbosgebiede voorkom. Dit sluit dié soorte in wat natuurlik in die gebied voorkom, sowel as dié wat deur die jare vanuit ander dele van die wêreld hierheen versprei het.  

“Phytophthora beteken in Grieks is 'plantvernietigers'," verduidelik hy. “Spesies in hierdie groep is mikroskopiese organismes wat bekend is daarvoor dat hulle plante besmet en kan doodmaak." 

Hierdie organismes is geensins skadelik vir mense nie. Hulbert wys ook daarop dat nie alle mikro-organismes skadelik is nie, en dat baie daarvan bygedra het om die natuurlike omgewing te vorm tot wat dit vandag is.  

“Voorbeelde soos mikorrisas (swamwortels) en stikstofbindende bakterieë help plante om water en voedingstowwe te kry, terwyl ander help om dooie plante te herwin," verduidelik hy. “Die plante in die fynbos het byvoorbeeld oor millennia geleidelik 'n natuurlike vennootskap of balans met die mikrobes wat van nature in die Kaapse Blommestreek gevind word, ontwikkel." 

Dit is egter wanneer die ander organismes van ander plekke af hierheen versprei die speelveld ongelyk raak.

Hulbert se Kaapstad-hipotesetoets 

As deel van sy navorsing het hy alreeds inligting van onder meer die Stellenbosch-berge, Chapman's Peak en Kaappunt ingesamel. Nou is sy visier op Kaapstad, en meer spesifiek Tafelberg, om uit te vind hoeveel Phytophthora-spesies natuurlik daar voorkom en hoeveel is ingebring. 

“My hipotese – of beste raaiskoot gegrond op die bewyse waaroor ek reeds beskik – is dat daar 'n paar spesies in Kaapstadse tuine en op straatbome is wat van elders ingebring is, byvoorbeeld deur die invoer van ornamentele plante," voeg hy by. “As ons weet wat daar is, kan ons dit vergelyk met die spesies wat tans op Tafelberg gevind word."

Hy hou duim vas dat sy opname sal toon dat Tafelberg nog “skoon" is wanneer dit by indringer- of vreemde Phytophthora-spesies kom.  

“Ons weet van een spesie, Phytophthora cinnamomi, wat vanuit suidoos-Asië kom en nou in Suid-Afrika en Tafelberg gevind word, maar dit kon dalk al 300 jaar gelede gebeur het," sê Hulbert. “Die belangrike deel is egter om die berg se natuurskoon so te hou, want dit is 'n Wêrelderfenisgebied en huisves baie kenmerkende plantspesies wat nêrens anders in die wêreld gevind word nie."

 

Phytophthora cinnamomic het vermoedelik al by die 80 soorte inheemse plante besmet. Vyf hiervan word beskou as uiters bedreigd.

“Ons vermoed dat hierdie spesie al honderde jare tuis is in Suid-Afrika, maar ons het nog nie 'n goeie idee oor watter impak dit het nie. Daarby is ons bekommerd dat soortgelyke spesies ook hul intrek in die Kaapse Blommeryk kan maak," vertel hy.

Wat sal gebeur as hy wel kommerwekkende spesies opspoor in die Kaapse tuine? “Sulke inligting sal beslis gedeel word met die bestuur van die Tafelberg-kabelkar en SANParks sodat hulle ingeligte besluite kan neem oor die moontlike insluiting van basiese sanitasiemetodes in hul toerismebestuursprotokol," reken Hulbert. “Dit kan in elk geval die moeite werd wees om basiese stappe in plek te stel, soos om toeriste te vra om hul skoensole skoon te maak voordat hulle by die berg opgaan. of om oor ontsmettingsmatte te loop terwyl hulle vir die kabelkar wag."  

“Die spesies waarvan ons praat, is baie klein en die spore waaruit hulle ontwikkel is net onder 'n mikroskoop sigbaar," verduidelik hy. “Hulle kan maklik saamgedra word in grond wat op een plek onder jou skoene versamel en dan op 'n ander plek vrygelaat word."   

Hoe kan jy help?

“Hoe meer 'wetenskaplike' oë op die uitkyk is, hoe beter kans het ons om 'n nuutingevoerde indringermikrobe te bespeur voordat dit te veel skade aanrig," sê Hulbert.  

Hy vra daarom vir Kapenaars om hom te help om grondmonsters en dooie plante van enige plek in die stedelike gebied rondom Tafelberg te versamel. Van besondere belang vir sy werk is Houtbaai, Claremont, Groenpunt, Grassy Park, Ottery, Wynberg en Rondebosch. Sommige van hierdie gebiede is naby aan die Kaapstadse hawe, terwyl ander gebiede nog nie nagevors is nie. Spesifieke permitte word benodig om versamelwerk in die nasionale park self te doen. 

Hulbert sal dan die monsters in die laboratorium by Universiteit Stellenbosch ontleed om te sien of daar enige spoor van siektedraende Phytophthora-spesies is. 

Hy erken dit is nie so maklik om te bepaal of 'n plant weens 'n watertekort of weens een of ander siekte doodgaan nie.  

Phytophthora val in die meeste gevalle 'n plant se wortels aan en maak dit daar dood. Die sigbare simptome hiervan is baie dieselfde as vir 'n gebrek aan water," sê Hulbert. “Die beste manier om uit te vind wat aan die gebeur is, is om monsters van die grond en fyn wortels onder die plant te neem en dit dan in die laboratorium te toets."  

“Ons kan nie net aanvaar dat dit die droogte is wat plante laat vrek nie. So 'n aanname kan beteken dat ons die teenwoordigheid van 'n nuwe plantdodende mikrobe kan mis," voeg hy by. “Te midde van die droogte is dit selfs meer belangrik om te weet watter mikrobes ons plante affekteer, want plante wat onder druk is, raak selfs meer vatbaar."

 
Hoe kan die publiek help?  

  • Wees op die uitkyk vir plante in jou tuin en buurt wat siek lyk. Simptome sluit in dooie blare, letsels op blare of stamme, en die afsterf van takke en uitloopsels se punte.  

  • Versamel bietjies grond en fyn wortels van omtrent drie plekke rondom en onder die plant. Keer dat dit te koud of te warm word. 

  • Maak 'n aantekening van die GPS-koördinate of die adres waar dit ingesamel is.   

  • Neem 'n foto van die plant. 

  • Indien moontlik, maak 'n aantekening van watter plante daar naby groei, veral as daar nog plante is wat siek lyk. 

  • Hou jou graaf of gereedskap skoon te maak. Steriliseer dit na gebruik. Dit verhoed dat monsters besmet word of dat spesies per ongeluk van een gebied na 'n ander gebied versprei word. Borsel of spuit gereedskap met verdunde ontsmettingsalkohol, brandspiritus, seepwater of bleikmiddel. 

  • Vul die webvorm in wat beskikbaar is by www.citsci.co.za/capetown. Hulbert sal dan reël om die grond en plante by jou te kry.  

Vir meer inligting hieroor, besoek www.citsci.co.za/capetown of kontak Hulbert by capecitsci@gmail.com of www.facebook.com/capecitsci