Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US videos verskyn op WGO se opleidingsbiblioteek
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie
Gepubliseer: 19/01/2018

Twee videos wat onlangs deur die Film- en Televisie-eenheid aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Departement Verloskunde en Ginekologie saamgestel is, is as opleidingsvideos geselekteer deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO).

Die videos, getiteld “Catheterization of the bladder" en “Large Loop Excision of the Transformation Zone (LLETZ)", verskyn op die WGO se Biblioteek vir Voortplantingsgesondheid. Mnr Willie Myburgh van die Film- en Televisie-eenheid is verantwoordelik vir die opname en produksie van die videos.

“Ons videos maak 'n integrale deel uit van die opleidingsmateriaal in die Skills Lab, en ons is trots daarop dat ons videos van so 'n standaard is dat dit die WGO aanvaar word en op groot skaal besigtig word," het prof Hennie Botha, Hoof van die Department Verloskunde en Ginekologie by die Fakulteit Geneenskunde en Gesondheidswetenskappe gesê.

Prof Bert Schaetzing, 'n emeritus professor aan hierdie departement, is steeds aktief betrokke by die samestelling van mediese films en het deelgeneem aan die bestuur, redigering, draaiboekskryf en kommentaar-ontwerp van die videos wat deur die WGO se Eenheid vir Voorplantingsgesondheid aanvaar is. In totaal verskyn vyf videos deur die Film- en Televisie-eenheid op hierdie kanaal: 

  • Catheterization of the bladder
  • Large Loop Excision of the Transformation Zone (LLETZ)
  • Examination of the Placenta
  • Termination of pregnancy with the manual vacuum aspirator
  • Laparoscopic sterilization with Falope ring and Filshie clip

Besigtig die mediese opleidingsvideos op die WGO se Biblioteek vir Voorplantingsgesondheid se YouTube-kanaal: https://www.youtube.com/user/WHOrhl