Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Aan die hart van rooibos se voordele
Outeur: Liezel Engelbrecht
Gepubliseer: 18/12/2017

​Wetenskaplikes kom al hoe nader daaraan om te verstaan hoe die Suid-Afrikaanse fynbosplant rooibos die dodelike gevolge van een van die wêreld se vinnigste groeiende leefstylsiektes, tipe 2-diabetes, kan help voorkom.

Hierdie siekte, wat deur hoë vlakke van bloedglukose (suiker) weens groeiende onsensitiwiteit vir insulien gekenmerk word, het talle navorsers genoop om alternatiewe meganismes te ondersoek waardeur selle se glukose-opname verhoog kan word in 'n poging om 'n geneesmiddel te vind.

Nou is Sybrand Smit, 'n PhD-student onder leiding van prof Barbara Huisamen van die Afdeling Mediese Fisiologie van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, 'n stap nader aan hierdie deurbraak.

Smit se navorsingstudie vir sy meestersgraad het gefokus op aspalatien, 'n komponent wat bekend is vir sy bydrae tot rooibos se heilsame uitwerking. Hy het die terapeutiese potensiaal daarvan vir die diabetiese hart, deur die opname van glukose te induseer, ondersoek. Dit kan die hart só in staat stel om 'n oormaat bloedglukose te hanteer in diabetiese pasiënte met hoë  bloedglukosevlakke," verduidelik hy. Dít kon egter nie bewys word toe aspalatien vir 'n kort rukkie aan selle berei uit rotharte, toegedien is nie. Aspalatien het wel glukoseopname in die hartselle van jong en ou kontrole rotte ontlok, maar nie betekenisvolle resultate in vet rotte opgelewer nie.

“Ofskoon die studie twyfel wek oor die akute terapeutiese effektiwiteit van aspalatien in insulienweerstandige selle, was 'n nuwe ontdekking van die studie dat insulienweerstandigheid die uitwerking van aspalatien vertraag," verduidelik Smit. Hy is opgewonde dat hy so 'n sterk korrelasie tussen aspalatien en insuliensensitiwiteit gevind het.

Wat is dus die volgende stap vir navorsers en hoe kan dit op mense toegepas word?

“Dit is bekend dat rooibos-gebruik kardiobeskermend kan wees in mense met 'n verhoogde hartsiekte-risiko. Of diabetiesepasiënte daarby kan baat vind, verg egter verdere ondersoek. Dus sal aspalatien as 'n dieetaanvulling in toekomstige studies gebruik moet word om die langtermynuitwerking daarvan te ondersoek op insulienweerstandigheid (geïnduseer deur 'n hoëvet-hoëkaloriedieet), vetsug, hartfunksie en beskerming ná 'n gesimuleerde hartaanval, energiemetabolisme, oksidatiewe status en anti-inflammatoriese eienskappe."

Smit, 'n selfverklaarde natuurlikeprodukentoesias wat met rooibos as die warm drankie van voorkeur grootgeword het weens die oorvloed daarvan in die omgewing van sy tuisdorpe Clanwilliam en Lambertsbaai, kan nie aan 'n beter projek dink om hom in te verdiep nie.

Vir sy PhD-navorsing gaan hy 'n rotdieetstudie onderneem oor groen rooibos (wat aansienlik hoër aspalatienvlakke as sy gefermenteerde eweknie bevat) en die hopelik heilsame uitwerking daarvan, om die gaping tussen die werking van die diabetiese en die normale hart te oorbrug.