Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-personeel en studente skryf rekordgetal artikels
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 12/12/2017

​Personeel en studente aan die Universiteit Stellenbosch (US) het in 2017 ʼn rekordgetal diepte- en meningsartikels asook rubrieke in die gedrukte en elektroniese media in Suid-Afrika en internasionaal gepubliseer – waarvan ons weet. Altesaam 190 diepte- en meningsartikels en 83 rubrieke het in die populêre media verskyn vergeleke met die183 en 69 in 2016.

Van die artikels was deur nuwe doktorsgrade wat hul PhD-navorsing toeganklik vir ʼn nie-akademiese gehoor gemaak het. Ander artikels was deur gevestigde wetenskaplikes wat spesifieke navorsingsbevindings met die publiek gedeel het. Sommige  artikels was gekoppel aan bepaalde nasionale en internasionale dae terwyl ander bydraes aktuele kwessies en sake van die dag gefokus het.

Die rekordgetal artikels en rubrieke bevestig opnuut dat die US ʼn plek van denkleierskap is.

Ons personeel en studente skryf nie net akademiese artikels vir geakkrediteerde joernale nie, maar deel ook toenemend hul insigte met die breë publiek.

As ʼn gevestigde navorsingsintensiewe universiteit en ʼn leier op navorsingsgebied, handhaaf die US vir etlike jare die hoogste navorsingsuitset per capita van alle universiteite in die land, aldus die Departement Hoër Onderwys en Opleiding, soos gemeet aan publikasie-uitsette (joernaalartikels, boeke en hoofstukke), asook skripsiemeesters- en doktorsgrade.

Hierdie navorsingsuitnemendheid word aangevul deur die US se sterk teenwoordigheid in die populêre media danksy bydraes deur US-personeel en studente.

Klik hier​ vir die lys artikels en rubrieke wat gepubliseer is en wat Korporatiewe Kommunikasie opgeval het, wat baie hiervan gefasiliteer het – dog nie almal nie. Dit kan wees dat daar ander artikels verskyn het waarvan ons nie kennis dra nie. En hierdie lys sluit ook nie gereelde blogs deur US-akademici in nie.