Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Heel eerste naaldekoker-hommeltuigprojek soek ondersteuning om op te styg
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 08/12/2017

Navorsers hoop dat publiek se ondersteuning hulle sal help om Oos-Afrika se naaldekokers te kiek


Wil jy 'n vroeë Kersgeskenk gee aan 'n navorser wat passievol is oor naaldekokers? Oorweeg dan om ʼn skarebefondsing-projek (crowdfunding) te steun. Die projek hoop hommeltuie (drones) te gebruik om naaldekokerspesies in die vleilande van Mosambiek en die mere van Uganda te fotografeer en te identifiseer. Hommeltuig-tegnologie is voorheen nog net gebruik om soogdiere en voëls te bestudeer, maar is nog nooit ingespan om insekte te monitor nie.

Hierdie effense buite-die-boks navorsingsprojek is die breinkind van dr John Simaika, ʼn navorsingsgenoot van die Departement Grondkunde aan die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit AgriWetenskappe is ook 'n na-doktorale navorser aan die IHE Delft Instituut vir Wateropvoeding. Hy werk saam met dr Paolo Paron, ook van IHE Delft.

Hul skarebefondsing-projek op die Kickstarter-platform loop tot 22 Desember, en word genoem “Drones and dragons: tech for assessing wetland health". Die oorkoepende doel daarvan is om die toestand van vleilandgebiede te assesseer in dié twee Afrikalande. Dit word ondersteun deur NatureUganda en die Maputo Natural Historical Institute, sowel as die IHE Delft Instituut vir Wateropvoeding. Een van die uitsette van die projekte sal die ontwikkeling van ʼn gratis aflaaibare en deelbare bio-moniteringstoepassing (app) wees wat ook deur nie-wetenskaplikes gebruik kan word. Dit sal ʼn aanlyn-beeldherkenningsdiens gebruik.

 

“Ons probeer hierdie redelik onkonvensionele fondsinsameling-metode, omdat ons reken dat tradisionele befondsing-platforms vir wetenskaplike projekte nie noodwendig gerat is vir hierdie idee nie," sê dr. John Simaika, medeskrywer van ʼn boek wat beskryf hoe naaldekokers gebruik kan word om die toestand van Suid-Afrikaanse vleilande en riviere te assesseer.

 

Waarvoor sal die fondse gebruik word?
Die projekspan het reeds die hommeltuie, maar benodig 'n belangrike stuk toerusting: ʼn 100mm premium lens vir hul Sony Alpha kamera. Hulle samel ook fonds in om hul oorhoofse kostes, verbruiksgoedere en reiskoste te dek. Hulle hoop om Uganda se mere en vleilandgebiede in Mosambiek minstens twee keer oor die volgende twee jaar te besoek. Sodoende sal hulle kan kennis inwin oor hoe die naaldekoker-verskeidenheid van seisoen tot seisoen verskil.

 

Hoekom naaldekokers?
“Naaldekokers is groot insekte wat relatief maklik raakgesien en geïdentifiseer word in die veld, en is uitstekende aanwysers van die kwaliteit van water en algemene varswatergesondheid," verduidelik dr Simaika. “Hul teenwoordigheid verklap inligting oor die toestand van die omgewing, want sommige spesies word slegs in onversteurde gebiede aangetref, terwyl ander weer heel aanpasbaar is by veranderings wat veroorsaak word deur byvoorbeeld swak grondbestuurpraktyke of menslike ontwikkeling."

Hommeltuie sal gebruik word om beeldmateriaal te verkry, terwyl beeldherkenningsagteware die navorsers in staat sal stel om die verskillende spesies te identifiseer en te tel. “Dit verhoed dat iemand vir ure die beeldmateriaal moet deurgaan en die insekte self moet tel," verduidelik dr. Simaika.

“Gebiede wat nie maklik te voet bereik kan word nie, soos watervalle of digte plantegroei in vleie, kan opgeneem word danksy die kamera wat op die hommeltuig gemonteer is," sê dr Simaika. “Opnames kan herhaal word in dieselfde gebiede danksy die ingeboude GIS-stelsel in die toestel. Omdat die beeldmateriaal elektronies opgeneem word, kan die data gelaai, gestoor, gedeel en oor en oor geanaliseer word. Dit kan gebruik word om inligting in te samel oor naaldekokers, maar ook vir ander dinge soos die plantegroei wat teenwoordig is, en veranderinge in grondbedekking."

 

Volgens dr Simaika maak die gebruik van tegnologie dit moontlik vir nie-deskundiges en nie-wetenskaplikes om die moniteringswerk te doen. “Dit verskaf die geleentheid vir mense om betrokke te raak in die monitering van die stand van vleilande op ʼn vrywillige basis," verduidelik hy.

 

Vir meer inligting, besoek https://www.kickstarter.com/projects/dronesanddragons/drones-and-dragons-tech-for-assessing-wetland-heal of kontak dr. Simaika op simaikaj@sun.ac.za.