Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Navorser ontwikkel kommunikasiemetode om tikmisbruik hok te slaan
Outeur: Corporate Communication/ Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 08/12/2017

​Drie van die land se grootste probleme loop hand-aan-hand: dwelmisbruik, misdaad en geweld.  Dikwels in daardie volgorde.  En dit beïnvloed nie net die sosiale welwees van die land se mense nie, maar het uiteraard ook 'n negatiewe uitwerking op die ekonomie, wat reeds flou en uitgeput is.

Om dus die bose kringloop te verbreek, moet die probleem se kern aangespreek word: dwelmmisbruik.  Dit is presies wat dr Burt Davis, dosent aan die Afrika Sentrum vir MIV/Vigsbestuur (Africa Centre for HIV/Aids Management) aan die Universiteit van Stellenbosch gedoen het.

Hy het besef ge-eikte metodes van kennis en inligting oordra val dikwels, selfs gewoonlik, op dowe ore. Hy het intense navorsing gedoen en toe met 'n eerste in Suid-Afrika vorendag gekom.

Davis het pas sy doktorsgraad op die sesde gradeplegtigheid van die Universiteit van Stellenbosch (7 Desember) verwerf deur 'n fyn wetenskaplik-uitgewerkte gesondheidsgebaseerde foto-boekie oor tik, “Spyt kom te laat", te ontwerp en te toets in klinieke en ander gemeenskapsentra in die Wes-Kaap.  Sy studieleier was prof Carl Jansen van die Universiteit Groningen in Nederland en ereprofessor aan die US.

“Soos almal weet, ken die tik probleem in veral die Wes-Kaap geen perke nie", sê Davis. “Ek glo opvoeding rondom hierdie probleem is die sleutel tot sukses. As mens egter na pamflette en brosjures oor tik by klinieke en hospitale kyk, is daar dikwels nie veel om van te kies nie. Veral nie in Afrikaans nie. Ek het toe besluit om self iets aan die saak te doen."

Die fotoverhaal handel oor die bose kringloop: hoe maklik en “onskuldig" iemand in tikmisbruik kan verval; die misdaad wat volg; die huislike tragedie wat hom afspeel en uiteindelike inhegtenisname. En dan kom “spyt te laat"…

“Ek het 'n 'entertainment-education' of vermaaklikheid-opvoedkundige benadering gevolg. “Mense hou daarvan om vermaak te word. Deur 'n gesondheidsboodskap oor tik op 'n vermaaklike wyse met 'n storie en fotos oor te dra, leer mense oor die tik probleem sonder dat hulle eers weet".

Hy voeg by: “Dit help nie mens doen akademiese werk oor die gemeenskap, maar dit beteken niks vir die gemeenskap nie. Daarom wil ek probeer om my foto-boekie verniet beskikbaar te stel vir gemeenskapsleiers, skole en klinieke – of wie ook al sou belangstel" sê Davis. “Maar om die boekies te druk kos geld.Wat ek dus nou kort, is befondsing."

Hy glo (en het bewys) dat dié wyse om die tik-euwel aan te spreek, kan werk aangesien sy resultate getoon het dat mense die fotoboekie verkies bo meer tradisionele brojures en dat dit effektief kan wees om gesondheidsboodskappe oor tik aan die gemeenskap oor te dra.

Dr Burt Davis is dosent aan die Afrika sentrum vir MIV/Vigsbestuur aan die Universiteit van Stellenbosch, en kan gekontak word by 021 808 3707 of burt@sun.ac.za