Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ondersteun die #US99-veldtog en help verlig studieskuld
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 06/12/2017

Terwyl die meeste Suid-Afrikaners nie kan wag vir 'n blaaskans van hulle daaglikse werksroetine nie, is ons eersdaagse graduandi weer gretig om die werkplek te betree.

Ongelukkig is 'n graad nie ál waarmee studente op gradedag wegstap nie – baie dra ook 'n swaar studieskuldlas met hulle saam.

Aan die vooraand van ons Eeufees wil ons graag toesien dat die klas van 2017 die res van hulle lewensavontuur sonder studieskuld aanpak. Alle geld wat ons met die #US99-veldtog insamel, gaan direk na finalejaarstudente met agterstallige universiteitsrekeninge.

Hieronder verduidelik die aangewese Bedryfshoof, prof Stan du Plessis, waarom hy die #US99-veldtog​ ondersteun.

 

1.     Waarom ondersteun u die afgelope dekade reeds etlike Universiteit Stellenbosch-projekte?

Ek gee werklik om vir universiteite – en vir die Universiteit Stellenbosch in die besonder – en het al soveel keer gesien watter kragtige rol hierdie instellings in die lewens van studente en personeel sowel as die groter samelewing speel. Ek probeer op my beskeie wyse bydra waar ek kan, hetsy deur my tyd te skenk, en soms hulpbronne. 

2.      Wat sou u antwoord wees vir potensiële skenkers wat glo die Universiteit Stellenbosch “het genoeg geld"?

Die US se finansiële bestuur is gesond en omsigtig. Trouens, dít is hoe ons dit reeds dekades lank regkry om ons doelwitte te bereik. Ons is dankbaar vir die hulpbronne waaroor ons beskik, en ons gebruik dit aktief om studente in finansiële nood sowel as baie ander wonderlike projekte te ondersteun.

Tog is die behoefte veel groter as ons huidige middele. Ek probeer gewoonlik aan potensiële skenkers verduidelik hoeveel méér ons kan doen indien hulle die Universiteit sou ondersteun, veral wat finansiële bystand aan studente betref.  

3.      Is mense huiwerig om skenkings aan die US te maak?

Baie mense wil graag iewers in die toekoms skenk, oor 'n hele paar jaar, wanneer hulle glo hulle oor die nodige middele sal beskik. My standpunt is egter dat jou geleentheid om 'n verdienstelike saak te ondersteun, nie deur jou eie gemak bepaal word nie, maar deur die nood van die persoon wat jy kan help. 

4.      U het dié maand 'n student se studieskuld help betaal. Vertel ons meer daarvan?

Ek ken die student al 'n hele paar jaar as 'n begunstigde van 'n beursskema waarvan ek 'n trustee is. Hy is 'n skrander student en 'n bewonderenswaardige jong man. Weens ongelukkige familieomstandighede het hy kort voor gradedag in 'n finansiële verknorsing beland, en die trust kon hom nie help nie. Ek wou nie hê hy moet sy loopbaan met 'n skuldlas begin nie, en ek was bevoorreg genoeg om hom te kon bystaan. 

5.      Sou u ander US-personeellede aanmoedig om die #US99-veldtog te ondersteun en studenteskuld te help verlig?

Ek wil my kollegas vra om 'n bietjie na te dink oor hoe dit moet wees vir studente wat hard gewerk het om hulle grade te verwerf, maar nog nie hulle graadsertifikate kan ontvang nie weens uitstaande skuld. En dan nooi ek graag elke kollega om ons daardie studente se studierekeninge te help betaal sodat ons hulle op die pad kan plaas na die beroepsukses waarvoor ons hulle help toerus het.