Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Spanwerk lei tot egpaar se PhD en MSc in wiskunde
Outeur: Media and Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 05/12/2017

Akademiese deursettingvermoë en spanwerk tuis, het vir 'n paartjie oorspronklik van Madagaskar, gelei tot onderskeidelik 'n MSc- en PhD-graad in wiskunde van die Universiteit Stellenbosch (US) in 2017.

Dr. Valisoa Razanajatovo Misanantenaina het by die US se Desember 2017 gradeplegtigheid haar PhD in wiskunde ontvang vir haar navorsing oor grafiekpolinomiale en verwante parameters. In Maart 2017 het haar man, Tsinjo, 'n MSc in wiskunde verwerf – ook aan die US. 

Die paartjie het in 2011 ontmoet terwyl hulle albei aan die Universiteit van Antananarivo in Madagaskar studeer het. Teen die einde van 2012 is hul verhouding egter op die proef gestel toe Valisoa gekeur is om in Suid-Afrika te kom studeer by die Afrika Instituut vir Wiskundige Wetenskappe (beter bekend as African Institute of Mathematical Sciences, AIMS).

“Alhoewel langafstandverhoudings moeilik is, het ons nie moed opgegee nie. Tsinjo het my deurentyd aangemoedig en ondersteun. Hy het selfs sy studies 'n jaar lank onderbreek om by 'n hoërskool te gaan werk ten einde geld te spaar vir ons troue," sê sy.

Oor die volgende drie jaar het Valisoa haar studies by AIMS voltooi. Hierna het 'n MSc-graad by die US gevolg onder studieleiding van Prof Stephan Wagner, afdelingshoof van Wiskunde by die US se Departement Wiskundige Wetenskappe. Gedurende dieselfde tyd is Tsinjo gekeur vir die AIMS-program in Ghana, waar hy in Desember 2014 afstudeer het. Hierná is ook hy aanvaar vir MSc-studies in wiskunde by die US.

Toe hulle uiteindelik sáám op dieselfde tyd in die dieselfde plek kon wees, het die paartjie besluit om te trou alvorens hulle in Januarie 2015 na Stellenbosch verhuis het. Hierna het een plus een gou-gou drie geword.

Valisoa sê sy was regtig benoud toe sy uitvind van haar swangerskap, maar weer eens het die paartjie die situasie laat werk deur spanwerk: “Gelukkig kon ek gedurende die eerste ses maande van my seun se lewe grotendeels my navorsing van die huis af doen ‒ een van die voordele van navorsing in wiskunde! Toe hy ses maande oud was, het ons beurte gemaak om hom op te pas. Ek het gewoonlik soggens kantoor toe gekom terwyl my man babawagter was. Middae het Tsinjo weer kantoor toe gekom en tot laatnag gewerk."

As ek terugkyk, was dit 'n wonderlike ervaring: “My kollegas en die personeel van die wiskunde-afdeling was uitsonderlik. Daar was tye waar ek eenvoudig my seun saam kantoor toe móés bring en ek bang was dat dit my kollegas sou pla, maar hulle het selfs raad gegee en gehelp om dit vir my te laat werk."

Volgende jaar sal Valisoa aanbly as nadoktorale navorsingsgenoot van prof. Wagner wat ook haar studieleier vir haar PhD-studies was. Sy hoop om daarna iewers 'n akademiese pos te kry totdat Tsinjo sy PhD-studies waarmee hy tans besig is, voltooi. Hierna sal hulle saam besluit oor die hoe en waar van hul gesin se toekoms.

Sy sê dat AIMS en die US haar toegelaat het om te ontwikkel op 'n akademiese, sowel as persoonlike vlak. Sy dink na: “Onthou altyd dat moeilike paaie dikwels lei na besonderse bestemmings."