Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
ʼn Doktorale reis van Sabratah na Stellenbosch
Outeur: Alec Basson/Corporate Communication Division
Gepubliseer: 05/12/2017

Van Sabratah in Wes-Libië tot Stellenbosch in die Boland.

Dít is die reis wat dr Eman Teer moes onderneem om haar doktorsgraad in Fisiologiese Wetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US) te voltooi. Sy het haar graad op Maandag (4 Desember) by die US se eerste gradeplegtigheidseremonie van Desember 2017 ontvang. Teer het navorsing gedoen oor hoe inflammasie en bloedstolling die voorkoms van hartsiektes onder MIV-positiewe pasiënte verhoog.

Teer was onder die 639 studente in die Fakulteit Natuurwetenskappe wat hul grade by dieselfde plegtigheid ontvang het. ʼn Rekordgetal 5 720 grade, sertifikate en diplomas word vandeesweek by die Desember-gradeplegtigheid toegeken. Dit is 420 meer kwalifikasies as in Desember 2016, en 700 meer as in Desember 2015. Die totaal sluit ook 142 doktorsgrade en 545 meestersgrade in. 

Teer, wat as mediese dokter in Sabratah gewerk het, het die kruin van akademiese sukses bereik, maar dit was nie altyd maanskyn en rose nie.

Ná die Arabiese Lente in 2011, is haar tuisland, Libië, in 'n burgeroorlog gedompel. Teer se wêreld is in ʼn oogwink op sy kop gekeer.

“Toe die oorlog uitgebreek het, was dit vir my en my dogters, veral die jongste, baie moeilik. My man Emad was reeds in Stellenbosch besig met sy doktorsgraad. Hy het in 2010 hiereen gekom."

“Die oorlog was naby ons stad."

Met haar eie toekoms en dié van haar drie dogters op die spel, het Teer haar land verlaat en die lang tog suidwaarts aangepak.

“Dit was nie maklik om Libië te verlaat nie," sê sy. “My man het ons kom haal, maar hy kon nie die land binne-kom nie."

“My broer moes ons na Tunisië ry waar ons my man kon ontmoet."

Daar is 'n tikkie hartseer in haar stem wanneer sy praat haar land en haar uitgebreide familie wat sy moes verlaat.

“Ek het sewe susters en twee broers en dit was baie moeilik vir my om hulle agter te laat."

“Ek is bekommerd oor my familie. Soms vind ek via Facebook uit dat sommige naasbestaandes dood is. Dis nie maklik vir my nie."

Ten spyte hiervan bly Teer optimisties dat dinge in haar land ten goede sal verander.

Die lewe in Stellenbosch

Vir nou geniet sy haar tyd in Stellenbosch en is sy bly om te sien dat dit goed gaan met haar dogters.

“My oudste dogter Sarah is 'n eerstejaar BSc-student aan die Universiteit Stellenbosch; Tasneem het pas haar matriekeksamen by Rhenish Meisies Hoërskool voltooi, terwyl Ream in Rhenish Primêre Skool is."

Teer se gesig helder op en sy glimlag breed wanneer sy oor haar tyd in Suid-Afrika praat.

“Ek hou baie van Suid-Afrika; ek is lief vir die mense en veral die diversiteit van die mense. Ek het goeie mense ontmoet en dit, saam met 'n baie lekker omgewing, het my gehelp om my studies te voltooi. Suid-Afrika is 'n goeie plek."

“Ek is baie gelukkig om my navorsing op Stellenbosch te doen. Selfs wanneer jy probleme het, sien jy die ondersteuning van jou kollegas en jou professor."

Teer sê sy is dankbaar vir die ondersteuning van haar studieleier prof Faadiel Essop en sy span.

“Prof Essop was regtig baie goed vir my."

Sy praat ook met lof van haar man se ondersteuning en aanmoediging. Hulle is reeds 22 jaar gelukkig getroud. Hy is tans 'n nadoktorale genoot in die US se Departement Bedryfsingenieurswese.

“Hy het my baie gehelp met ʼn klomp dinge en doen dit steeds."

Teer gee ook erkenning aan haar familie vir hul ondersteuning nadat sy in Suid-Afrika aangekom het. As 'n gelowige persoon glo sy vas dat God haar deurgaans gehelp het.

As iemand wat nooit tou opgooi nie, glo Teer dat vroue vir hul toekoms moet veg. “Vroue kan in Libië, die Midde-Ooste, Suid-Afrika, oral, baie verander. Ek praat baie hieroor met my dogters."

Teer sê sy hoop om eendag aan haar land terug te gee vir dit wat sy ontvang het. “Ek wil 'n verskil maak in die lewens van my mense."

Intussen geniet sy die lewe op Stellenbosch en beplan sy om volgende jaar nadoktorale navorsing te doen.

  • By dieselfde plegtigheidseremonie het prof Len Barbour van die Departement Chemie en Polimeerwetenskap en mnr Neels Fourie van die Afdeling Akademiese Administrasie Kanselierstoekennings ontvang.

 

Foto: Dr Eman Teer saam met haar man en drie dogters by die gradeplegtigheid.

Fotograaf: Stefan Els